’n Romantiese het in die lug gehang op Karel-Willem en Elzane van Heerden se troudag. Die inspirasie agter die koninklike romanse was ʼn pragtige venue in die Paarl en ʼn trourok wat lyk soos ʼn sprokiesverhaal prinses se trourok.

Na die bruidspaar hulle venue, Ashanti Estate, gekies het en Elzane haar prinsestrourok gekry het, het hulle, hulle dekor aangepas om deel te vorm aan die koninklike en romantiese atmosfeer. Hulle vertel vir ons hulle trouverhaal.

WAAR HET JULLE ROMANTIESE LIEFDESVERHAAL BEGIN?
“Ons het in 2010 ontmoet op Kovsies se kampus. Na drie jaar van saam klas draf en vriende wees het ons gevoelens vir mekaar begin kry en ek het sy meisie geword. In 2016 moes ek my klerkskap in Pretoria gaan doen en hy syne in Bloemfontein. Die jaar se afstand het ons nie onder gekry nie en in Junie 2017 is ons verloof.”

WATTER KARAKTEREIENSKAPPE VAN HOM HET GEMAAK DAT JY VERLIEF GERAAK HET OP HOM?
“Hy is die gaafste en liefdevolste mens wat ek ken, en hy kan kook! Ons deel dieselfde passies, drome en doelwitte en streef saam om die beste te wees wat ons kan wees!”

HOE HET HY JOU GEVRA OM TE TROU?
“Op die vakansiedag van 16 Junie 2017 het ek saam ʼn vriendin na trou-venues gaan kyk vir hulle troue. Die koördineerder het ons nog ʼn laaste romantiese plekkie gaan wys en soos ons ingestap het was daar net roosblare en foto’s van ons orals. Hy het in ʼn hartjie van roosblare gestaan en net daar my gevra om te trou.”

VERTEL ONS MEER OOR DIE BEPLANNING VAN JULLE ROMANTIESE TROUE?
“Ons was 15 maande verloof, so ek kon alles mooi beplan met baie hulp van tydskrifte, Google en Pinterest. Ek het begin by die venue en toe het die res net in plek geval. Nadat ek my droom trourok gevind het, het ek geweet ek moet my dekor ook aanpas.”

WAT WAS JULLE KLEURE EN HOEKOM?
“Ons tema was koninklik met skakerings van goud, maroen, pers en pienk. My rok en die venue het ons daarop laat besluit, want dit het so goed aangepas by ʼn koninklike styl. Ek het ʼn lang sleep gehad en my sluier was vloerlengte. Dit het ons hele troue ʼn romantiese atmosfeer gegee.”

WAT HET AGTER DIE SKERMS GEBEUR?
“My ouers het baie gehelp met die beplanning, want ons bly in Pretoria en het in die Paarl getrou. Ons het ʼn wonderlike koördineerder gehad wat met alles gehelp het en moes self ook ʼn paar keer op en af vlieg om alles te beplan.”

WATTER RAAD HET JULLE VIR TOEKOMSTIGE BRUIDSPARE?
• Beplan elke detail.
• Maak lysis en merk af.
• Geniet elke oomblik! Maak tyd om gedurende die aand saam met jou man weg te glip en vir ʼn oomblik alles in te neem. Ek weet almal sê dit, maar die tyd vlieg rêrig!

Die pragtige venue en Elzane se droomtrourok het die bruidspaar geïnspireer om ʼn romantiese koninklike atmosfeer te skep. Hulle het dit sonder twyfel reggekry met pragtige skakerings van goud en verskillende perse. Hulle troudag het afgespeel, net so perfek en beelskoon soos ʼn koninklike bruilof!

DIENSVERSKAFFERS:
Venue, koördineerder, spyseniering: Ashanti
Drankies: Porcupine Ridge Wines
Blomme en dekor: Flowers by B
Skryfbehoeftes: Artica Designs
Troukoek: Lizel’s Cakes
Fotograaf: Debbie Lourens Photography
Videograaf: Boland Weddings
Musiek: DJ Dean
Trourok: Whimsical Bridal
Grimering en hare: Mooi Nooi Make-up Artist & Hairstylist
Bruidegom se uitrusting: Black Tie
Vervoer: 1955 Plymouth Belvedere

Artikel: An-Sophie Jonker

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA