’n Sprokiestroue het gevolg na ’n braaidag-uitstappie saam met gemeenskaplike vriende hulle paaie laat kruis het. Minette Badenhorst deel die storie agter hierdie mooi troue.

Henroux en Marli het ontmoet by ʼn kompleks se braaidag en het baie goeie vriende geword. Hulle het alles saam gedoen en so het Marli besef dat sy verlief en lief vir Henroux was. Hy het ongelukkig nie dieselfde gevoel nie, en Marli het gesê dit is dan beter om vir eers kontak te breek, want sy sou net seerkry en het allermins verwag dat ’n sprokiestroue vir hulle op die kaarte was.

Soms besef ’n mens nie dat die persoon wie jy lief het al die tyd reg voor jou was nie. Vir Henroux het daardie oomblik gekom toe Marli hulle vriendskap stop. Toe sy die middag by die huis aankom, was sy kar daar. Henroux het gesê na hulle die gesprek gehad het dat hulle vriendskap eerder moet eindig, het hy ʼn hol kol op sy maag gekry en het hy besef hy is ook lief vir haar. Dit is waar die pad na hulle sprokiestroue begin het.

WATTER EIENSKAPPE HET JULLE OP MEKAAR LAAT VERLIEF RAAK?
Marli: “Hy is ʼn ware man, ʼn gentleman. Hy het die wysheid om te onderskei tussen wat goed is en wat sleg is. Hy is standvastig en ek voel veilig by hom.”
Henroux: “Ek het verlief geraak op haar borrelende geaardheid. Sy is passievol oor die lewe, vol pret en is altyd reg vir ʼn uitdaging.”

WANNEER HET JY GEWEET DAT JULLE VIR MEKAAR BEDOEL WAS?
“Die oomblik toe ek gevoel het dat ek alles sal doen om hom gelukkig te maak. Ek het toe besef dat hy my hart in sy hande en dat ek ʼn beter mens wil wees as ek saam met hom is. Ek is lief vir hom oor wie ek is wanneer ek naby hom is en toe ek in sy mooi blou oë kon sien dat hy dieselfde voel.”

HOE HET HY DIE GROOT VRAAG GEVRA WAT GELEI HET TOT JUL SPROKIESTROUE?
“Hy het vir my ʼn ring laat maak wat self ontwerp is. Ons het by my ouers op Danabaai gekuier oor die Desember vakansie. Hy wou die spesifieke dag Jakkalsvlei toe gaan en ek was glad nie lus daarvoor nie. Dit het baie oorreding gekos want ek is versot op swem en wou eerder see toe gaan, siende dat dit ʼn perfekte sonskyndag was. Oppad na die wynplaas het hy my gevra om ʼn drinkdingetjie uit die koelboks te haal. Heel omgekrap omdat ek nie my sin kon kry nie, het ek gesê ek sal later. Hy het toe gestop, die ring uit die kattebak gaan haal en net daar in die grondpad op sy knieë gegaan. Ek het so gebewe want ek het dit glad nie verwag nie. My hart het gekrimp en ek het dadelik JA gesê.”

VERTEL ONS MEER VAN JULLE SPROKIESTROUE SE BEPLANNING?
“Ek het begin by ʼn ontwerper vir my rok en toe dit uitgesorteer was, was alles net eenvoudig. Ek het presies geweet hoe alles moet lyk en het voorbeelde van my idees aan Roots Flower Market gegee. Sy het dit so geniet om dit vir my te doen. Ons het ’n woudtema gehad met baie groen en wit. Dit was my kleindogtertjiedrome wat waar geword het. Ek is versot op die Knysna woude en dit is presies wat ek wou hê – varings, orgidieë, boombas ensovoorts. Ek wou ʼn woudatmosfeer hê, want ek wou soos ʼn bosnimf voel. ʼn Woud is in perfekte harmonie met die natuur, waar jy die voëltjies kan hoor tjirp en water saggies hoor kabbel tussen groot ou bome. Daar waar ek my hele hart kon toevertrou aan die man van my drome, toegegooi met die seën van ons geliefdes.”

BESKRYF JULLE SPROKIESTROUE?
“Ons troudag is nie eintlik iets wat ek in woorde kan beskryf nie. Dit het eerder gegaan oor hoe dit ons laat voel het. Ons het baie spesiaal en geliefd gevoel en dit was ʼn voorreg om ons liefdesfees met ons hartsmense te kon deel. Ons het ʼn venue gekies waar ons elke oomblik van ons troue saam met ons gaste kon stap. Die verblyf, die seremonie, die onthaal en die fotonemery was alles op dieselfde perseel. Vooraf het die manne lekker vir oulaas as enkellopendes saam gekuier, terwyl die meisies die gewone mooimaak sessie gehad het. Die gaste het ons later in die mooiste opelug kerkie ingewag. My droomtrourok is ontwerp deur die talentvolle Esmé van Mark of E in Parys en ek het werklik soos ʼn prinses gevoel terwyl ek my prins tegemoet geloop het. Ons het gedurende die seremonie ʼn olyfboompie geplant om ons lewe as man en vrou saam uit te beeld, maar toe ons dit moes natgooi uit die mooiste silwer gietertjies was daar slegs druppeltjies water in elke gietertjie oor, tot groot vermaak van ons gaste. Omdat ons nie die natuur wou versteur nie het ons besluit op olyfblare as konfetti.

Ons wou nie hê ons gaste moes ʼn lang uitgerekte wag sessie deurgaan terwyl ons fotos neem nie en daarom het ons direk na die seremonie ons “nie-tradisionele” troukoek gesny. Dit was ʼn heerlike troukoek gemaak uit verskillende kaassoorte met vars vrugte en bessie stroop, met die woord KOEKERASIE wat ewe spoggerig bo-op die koek gepryk het (my eie skepping).

Die gaste kon heerlik smul aan die kase en canapés terwyl hulle vir ons gewag het om foto’s te neem. Daar was gerieflike sitplek oral in die tuin, ʼn craft bier-stalletjie, stalletjies met verskillende sappe, speletjies soos X en O en Jenga waarop elke gas ʼn wenk of trouwens vir ons kon skryf. Ons gaste sê nou nog dat dit die beste wagsessie ooit was.

Die weer was die heeltyd dreigend maar daar het nie ʼn druppeltjie reën geval totdat ons in die saal ingestap het met die liedjie, I feel good nie. Toe stortreën dit behoorlik. Dit het gevoel soos God se seën wat op ons huwelik neerdaal, wat ʼn blessing!

Die saal was presies soos ek dit in my drome gesien het. ʼn Woud vol groen varings met wit kantblomme, klein wit orgidieës, mos, tjinks en sampioene gedek op natuurlike houttafels en sagte kerslig uit koper kandelare. Dit het gevoel asof feëtjies enige tyd daar uit die woud sou verskyn. Dit was waarlik die sprokiestroue wat ek wou hê”

WATTER RAAD SAL JY DEEL MET TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“Wat dit ookal mag wees wat op die dag verkeerd loop, bly net kalm en geniet elke oomblik. Die tyd gaan so gou verby en dis immers jou sprokiestroue. Dra gemaklike skoene.”

HET JULLE ENIGIETS SELF GEMAAK VIR JULLE SPROKIESTROUE?
“Die troukoek en Tappas het my moeder vir ons so mooi bymekaar gebring. Die houers vir die sigare en kaasborde (vir die vrouens) het ons self gemaak. Die plekaanwysings wat teen ʼn ou houtdeur gedoen was, het ons self gedoen. Die Jenga-blokkies vir boodskappies en die X en O-speletjie het ons self gemaak.”

Hierdie sprokiestroue in die woud het soveel towerende oomblikke gehad en was op die einde geseën met reën vanuit die hemel. Die troue met groen, wit en koper en al die woudagtige elemente was perfek vir hierdie bosnimf bruid en haar droom man.

DIENSVERSKAFFERS
Venue, spyseniering, verhurings en drankies: Lace on Timber
Blomme: Roots Flower Market (Pretoria)
Troukoek: Self gedoen en Hoekplaas Cheesery
Skryfbehoeftes: Self gedoen en Jana Marnewick
Foto’s: Jana Marnewick Photography
Vidoegraaf: First Kiss
Trourok: The Mark of E
Bruidegom se uitrusting: Carducci
Grimering en Hare: Purenity

KLIEK HIER OM MEER OOR HULLE PRAGTIGE TROULOKAAL UIT TE VIND

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA