’n Straattroue is nie iets wat jy elke dag sien nie. Daarom was Pieter en Clarise se mooiste dag so uniek. An-Sophie Lourens verklap meer hieroor.

Pieter en Clarise se droom was om iets buitengewoon te doen wat die atmosfeer van die Karoo weerspieël. Hulle het hulle kreatiwiteit gebruik en toe besluit op ʼn straattroue in Darlingstraat.

“Ons wou ook ʼn elegante atmosfeer skep, maar tog nogsteeds eenvoud behou. Die kerk en die liggies van die gastehuis in die agtergrond het ʼn warm gevoel geskep op die dag van ons straattroue,” sê hulle.

WAAR HET JULLE LIEFDESVERHAAL BEGIN VOOR JULLE STRAATTROUE?
“ʼn Uitnodiging op Facebook het gelei tot ʼn koffie-afspraak, wat gelei het tot ʼn uitnodiging as metgesel na ʼn troue toe.”

WATTER KARAKTEREIENSKAPPE HET GEMAAK DAT JULLE VERLIEF RAAK OP MEKAAR?
“Ons deel ʼn liefde vir mense, lekker lag en vir God.”

WANNEER HET JULLE GEWEET JULLE IS BEDOEL VIR MEKAAR?
“Ons het dit besef, nie in die dinge wat ons vir mekaar gedoen het nie, maar die manier hoe ons mekaar lief gekry het.”

HOE HET HY DIE GROOT VRAAG GEVRA WAT GELEI HET TOT JUL STRAATTROUE?
“Heeltemal onwettig, het ons oor ʼn baie hoë heining van die reservoir in Heuwelsig geklim die dag van my verjaarsdag. Bo-op die reservoir het ons uitgekyk oor die stad en Pieter het vir my gesê hy wil vir my bid. Toe hy ‘Amen’ sê het hy op sy knieë gegaan.”

VERTEL ONS BIETJIE MEER VAN DIE BEPLANNING VIR JULLE STRAATTROUE?
“Ons was agt maande lank verloof. Ons #DarlingstraatTroue was geïnspireer deur die liedjie, Sonneblom uit Bethlehem. Ons wou graag die skoonheid en opregtigheid van die Karoo uitbeeld. Ons wou die gastehuis oorkant die kerk gebruik vir die onthaal, maar dit was te klein. Toe kom ons op met die idee van ʼn straattroue. Ons het gebruik gemaak van vriende en familie vir die skryfbehoeftes, grimering, die sang in die kerk, skilder as vermaak vir die gaste en my pa as die huweliksbeampte, wat die troue baie koste-effektief gemaak het. Ons het ook nie ʼn gevolg gehad nie.

Die kleurskema, tema en atmosfeer van julle troue…
Ons het nie ʼn kleurskema gehad nie. Ons het verskillende teksture geskep as die tema: houttafels, silwer eetgerei en baie glase op die tafels, sowel as kandelare wat uit die bome gehang het. Die straat is simbolies aan die pad wat ons saam gaan stap.
Spesiale oomblikke…
Ons gunsteling-oomblik was toe ek in die paadjie afstap na Pieter toe. Hy was so oorweldig met emosie en ek het geweet dis die beste loop van my lewe. My pa was in ʼn ernstige ongeluk 14 maande voor ons straattroue. Hy was in ʼn rolstoel toe ons verloof geraak het. Hy het begin oefen om te loop sodat hy my na die kansel toe kan begelei. Ons was almal baie emosioneel soos hy homself moes balanseer en op my leun.”

WAT HET AGTER DIE SKERMS GEBEUR?
“Dit was vreeslik winderig op die dag van die troue. Die gastehuis wou die troue na die stadsaal toe skuif. Ek het hulle gesmeek om dit ’n straattroue te hou. Ongelukkig kon hulle nie die tafels dek en kerse aansteek voor die tyd nie. Ons moes maar van die beplanning verander, maar dit was nogsteeds die moeite werd!”

RAAD AAN ʼN TOEKOMSTIGE BRUIDSPAAR?
“Moenie bang wees om iets anders te doen nie. Laat jouself toe om kreatief te wees. Vra vir jou bruidegom sy opinie. Vat raad van ander mense, maar besluit self wat julle op julle spesiale dag wil hê. Ons straattroue was perfek.”

HET JULLE ENIGE SELFGEMAAKTE ITEMS OP JULLE TROUE GEHAD?
“Ons dankiegeskenke was gehekelde blomme, wat dieselfde was as die lapel wat die bruidegom en familielede gedra het. Ons boodskap daarmee was dat al ons gaste eregaste is.”

Met ʼn sprokiesverhaal straattroue in die Karoo het Pieter en Clarise hulle lewenspad saam begin. Die straattroue skep ʼn gemaklike gevoel, maar met die agtergrond en dekor word dit stylvol afgerond. Toekomstige bruidspare kan beslis inspirasie kry van hierdie getroudes en hulle unieke idees.

Kyk die video van hulle troue hier!

DIENSVERSKAFFERS
Venue en spyseniering: Hanover Boutique Guest House
Dekor en bloemiste: Melikhaya Event Concepts (Alfred)
Ademarie Haasbroek (my sussie) & Carine Botha
Fotograaf: Organictales (Landi Groenewald)
Videograaf: The Spiffy Chap (Carl Viloria)
Musiek: DJ Brakkies
Vermaak: Ademarie Haasbroek het die troutoneel geskilder terwyl die gaste gekyk het.
Trourok: Moda
Hare: Oppi Plaas Salon
Grimering: Blush Make-up Studio
Bruidegom se uitrusting: Queenspark, Edgars, Woolworths, Boeremark, Wood,

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA