Vrouens is intelligente, emosionele wesens wat weet wat hulle wil hê – veral bruide! Charlene Kotzé nooi jou saam op ’n opwindende soektog na die regte strooimeisierok.

’n Bruid kies self haar strooimeisie(s) wat sy by al haar troureëlings gaan betrek. So sy moet haar darem spesiaal laat voel. ’n Nukkerige strooimeisie kan nogal ’n troufoto bederf. Die strooimeisierok verklap baie oor die bruid. Háár idees gaan bepaal hoe haar strooimeisie gaan lyk en voel.

TROUTEMA EN KLEUR
Somertroues
Myra Rouncivell van Bella Vestito meen die gewildste somerkleure is sjampanje, perske, ligte laventel, pienk, mentgroen, liggeel, liggrys en staalgrys. Die strooimeisierok moet binne die kleurskakerings van jou troue en seisoen val.

Wintertroues
Myra stel eiervrug, donkerpers, marsala, maroen, bruin, koningsblou of smaraggroen voor. Ligter wintervelle lyk besonder goed in juweelagtige kleure soos ametis, smarag en saffier, so hou dit gerus in gedagte wanneer julle die strooimeisierok kies.

Meer as een strooimeisie
The Knot reken die trendy, mismatched look sal die gevolg modern laat lyk: elke strooimeisierok word in ’n ander skakering van dieselfde kleur gedra.

Universeel en minimalisties
Die stonewashed-neiging gebruik kleure soos bloospienk, greige (grys en beige) en sandkleurig, wat heel prakties by die meeste vel-ondertone pas. Nog ’n minimalistiese opsie is om heeltemal wit te gaan met jou strooimeisierok, mits die bruid dan nie in wit trou nie.

Waaghalsig
Metaalkleure soos silwer, brons en sjampanje kan die strooimeisierok ’n lekker aweregse oemf gee. ’n Ander tendens op die horison is die funky-florals, maar jy sal jou storie moet ken om dit nie te oordoen nie.

STYL VAN DIE STROOIMEISIEROK
Voor jy besluit, móet jy eers by Bella Vestito gaan inloer. Hulle Multiwrap Infinity-strooimeisierokke is so jonk, bekostigbaar en multi-funksioneel. Dit beloof om enige grootte ongelooflik te laat lyk – van ’n petite 6 tot ’n wellustige 40. Hierdie strooimeisierok kan weer en weer gedra word. Maar gaan loer self!

ONDERKLERE
Moenie ’n strooimeisierok kleiner bestel met die voorneme om gou 5 kg af te skud nie. Krokkodiltrane is jou voorland! ’n Uitrusting kan maklik kleiner gemaak word, nie groter nie. ’n Rok wat te knap sit sal ’n gegiggel, ’n geskinder en ’n ge-“ag-foeitog” afgee. Maak nie saak hoe breed die glimlag nie, die ongemak sal wys!

Belê in kwaliteit onderklere. ’n Goeie body-shaper sal elke bultjie afrond. Die regte bra’s sal welbedeeldheid ondersteun en hupstootjies gee waar nodig.

DIE MENS BINNE-IN DIE STROOIMEISIEROK
Lang hare kan verleidelik opgebind word met ’n parmantige krulletjie of twee wat kuis langs die wang hang.
Kort hare word gewoonlik met ’n tease-kam geterg vir ekstra volume en styl.
Hou grimering au naturelle – min is steeds in.
Klein oorbelletjies en ’n dun armbandjie sal sorg dat die strooimeisierok self die praatwerk doen.

Trou ís nie perdekoop nie. ’n Vriendin met vlytige vingers kan kostes help laag hou, maar sy sal haar stik moet ken. Dis dalk beter om ’n aspirant-ontwerper die kans te gee om ’n voet in die deur te kry. Anneen Henze Collection of Blissfully Bridal Bridal Boutique kan bydra om die sprokie in die trou-album te verewig. Die strooimeisierok mag dalk eendag selfs nog in die kleindogters se slaaptydstories feature

Foto: Freepik

ROND JOU VOORKOMS AF MET HAARVERLENGINGS. KLIEK ONDER VIR MEER INFO:

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA