Stylvolle troue in die bosveld 1
Benet is ’n stadsjapie wat van die begin af geweet het sy gaan ’n “bosserige” troue hê, omdat Edwin so lief is vir die natuur. Maar hulle troue was beslis Bosveld met styl.

Stylvolle troue in die bosveld 2
Toe die twee vir die eerste keer ontmoet het, was sy nog effe te jonk vir Edwin. Sy was maar net 16 en hy al 21. ’n Paar jaar later was dit egter ’n ander storie en het hulle dolverlief geraak. Daar was net een probleem, hy moes teruggaan Engeland toe om te gaan klaar studeer. Maar die liefde oorwin alles en hulle verhouding het die lang afstand oorleef.

VERTEL ONS MEER OOR DIE BEPLANNING VAN JULLE TROUE?
“Edwin sou glad nie in ’n stywe saal geaard het nie en daarom het ons vir ’n buitelug-venue, twee maande na ons verlowing, begin soek. Ons het verlief geraak op ’n pragtige oord, wat binne ’n Groot 5-wildplaas geleë is. Dit was vir my belangrik dat dit nie ’n bostroue (sebra-velle en taretantaalvere in die hare nie) sou wees nie, maar eerder ’n stylvolle gemaklike troue in die bos. Die plek was ’n pragtige kombinasie van wat ons albei wou hê. Ons het gekies om in die kapel te trou, maar om die onthaal in die opelug te hou. Dit was wel ’n groot risiko, en ons moes weet dat ons nog op die dag dalk die onthaal na ’n saal sou moes skuif. Gelukkig was dit die perfekte dag, en ons kon langs die dam, tussen die leeus en renosters partytjie hou. Na die venue, was die fotograaf ons volgende prioriteit. Ons was altwee baie opgewonde toe ons Carolien en Ben se foto’s op hule blog sien. My rok het ek in my tuisdorp, Amanzimtoti, by Madelain Clark laat maak. Dit was omtrent ’n logistieke nagmerrie omdat ons in Pretoria woon, en sy in Durban. Ek kon net een keer die rok aanpas – die dag voor ek met my rok terug Pretoria toe moes kom. Ek droom al van kleins af oor my troudag, en dus het ons besluit om alles self te reël soos ons dit wou hê. Dit was wel ietwat van ’n uitdaging, maar verseker een van die redes dat die dag so suksesvol en spesiaal vir ons was. Almal het hand bygesit, van my skoonsuster wat wyn en sjampanje uit die Kaap gereël het, my tannies wat die dag voor die troue die poeding-presentjies aan mekaar geslaan het tot my ma wat maande voor die tyd kombersies gemaak het. Dit was omtrent ’n familie-poging! Niks kon verkeerd loop nie, want dit was ons dag!”
 
BESKRYF JULLE TROUDAG?
“Ons troudag was ekstra-spesiaal, want ek kon langs my sussie wat in Australië woon wakker word. Ek het ontbyt saam my strooimeisies geëet, en toe het die mooimaak begin. Alles was net so rustig en perfek. Ek was glad nie gespanne nie, en het duidelik gesê ek gaan nie laat wees nie. Die troue was drie uur, en toe ons vyf voor drie buite ons kamer staan en foto’s neem, vra Carolien wat so snaaks op my rok lyk. Ek het op ’n manier my vinger seergemaak en dit het op my rok gebloei. Ek was so opgewonde ekstase dat ek nie eers gevoel het nie. Inderhaas moes ons toe pleisters kry en my rok probeer skoon kry. Die diens was baie spesiaal, want Ds. Ferdie Postma, wat ons getrou het, was ’n ou familie vriend en het Edwin van kleintyd af geken. Dit was wonderlik om al die familie van ver saam te hê, en te kon ervaar hoe twee families een word. Almal het so lekker gekuier dat toe dit twaalfuur word, en ons uit die wildskamp moes gaan, die dansvloer nog vol was. Ons het toe met die wildkykvoertuie terug lodge toe gery, en die kuier daar hervat. Die dag was perfek, die dekor pragtig, en my man het baie aantreklik gelyk!”

HET ENIGIETS SPESIAALS GEBEUR TYDENS JUL TROUDAG?
“Daar was nie ’n tradisionele troukoek nie. Maar na ons per boot (troukar) daar aangekom het, het ons die dansbaan geopen en toe saam, as man en vrou, die bonfire aangesteek. Dit was betowerend!”

Stylvolle troue in die bosveld 3

HET JY ENIGE ANDER RAAD VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“Moenie bang wees om alles self te doen nie. Maak ook tyd vir jou verloofde, alhoewel hulle wonderlik en ondersteunend is, is troue reël, papier kies, koek proe en dans oefen nie so lekker vir hulle soos dit vir ons is nie. Vat tyd af, en wees net verloof nou en dan.”

Stylvolle troue in die bosveld 4

DIENSVERSKAFFERS

Venue en spyseniering: Mongena Lodge

Dekor: Bruid en Bruidegom self

Troukoek: Bruid se ma en tannies

Blomme: Die Blommemark

Skryfbehoeftes: Bruidegom

Fotograaf: Carolien en Ben

Musiek: Jam Jar

Hare en Grimering: Jonice de Villiers

Trourok: Madelain Clark

Bruidegom se uitrusting: Hugo Boss

Artikel: Yolande van Deventer

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA