’n Troue in skakerings van blospienk en groen, is wat hierdie paartjie graag wou hê. Gina van Staden het meer gaan uitvind oor hulle mooiste dag.

Adrian en Donné van der Merwe werk saam, bly saam en speel saam. Hulle kan absoluut nie ʼn lewe sonder mekaar indink nie. Hieronder vertel Donné vir ons meer oor hoe hulle werksverhouding op ’n troue uitgeloop het:

VERTEL ONS VAN JULLE ONTMOETING, VOOR ’N TROUE NOG TER SPRAKE WAS?
“ Ons het in 2013 by die werk ontmoet. Aanvanklik het ons nie veel ooghare vir mekaar gehad nie, maar een jaar tydens die werk se Kersfeesfunksie het ons net aan die gesels geraak. Die murder mystery-speletjie het ʼn liefdespel geword en ses maande later het ons saam ingetrek en ons lewensavontuur begin.”

HOE HET HY JOU GEVRA OM TE TROU?
“Adrian het vir ons ʼn langnaweek Durban toe gereël. Die huis wat hy gehuur het was ʼn dubbelverdieping met ’n see-uitsig en ʼn  jacuzzi op die balkon. Hy het rose gestrooi by die trappe af en toe ek by die onderpunt kom het hy my gevra om met hom te trou. Ons was vir agttien maande verloof.”

WAS DIE BEPLANNING VAN JULLE TROUE STRESVOL?
“Almal vertel altyd vir jou hoe stresvol dit is, maar jy weet nie regtig hoe erg dit is totdat jy jou eie troue beplan nie! Beplan goed en moet niks op die nippertjie doen nie – dan sal alles seepglad verloop.”

WATTER TIPE ATMOSFEER WOU JULLE SKEP?
“Net ʼn kalm en romantiese atmosfeer. Dis tog ʼn liefdesfees en die samekoms van twee families. Ons wou net die vrugte van ons harde werk ook pluk.”

WATTER RAAD HET JY AAN ANDER BRUIDE?
“Aanvaar ander se hulp wanneer jy dit regtig nodig het. Vele hande maak ligte werk! Geniet die dag van julle troue ten volle, want dit gaan so gou verby. Moenie die skryf van jou troubeloftes tot die laaste dag los nie.”

WATTER VAN JOU DIENSVERSKAFFERS IS JY DIE MEESTE DANKBAAR VOOR?
“Avianto was fantasties en deur-en-deur die moeite werd. Koos van Event Inspiration het die dekor ongelooflik mooi gedoen en het uit sy pad uit gegaan om ons gemaklik te laat voel. Die fotograwe van Compassion Art het hul naam absoluut uitgeleef. Nie net is hulle werk ʼn asemrowende kunsvorm nie, maar hulle het soveel deernis met ons gehad. Ons kon nie vir beter fotograwe gevra het nie.”

Adrain en Donné sien daarna uit om nog lank saam te werk en speel. Al is troue reël nie maklik nie, sal hierdie paartjie nie die lewenspad sonder mekaar wil stap nie.

DIENSVERSKAFFERS:
Venue, syseniering en drankies: Avianto
Koördinering: Lizelle Engelbrecht by Avianto
Blomme en dekor: Event Inspirations
Skryfbehoeftes: Bruid self
Troukoek: Chris’ Cakes
Fotograaf: Compassion Art
Vermaak: Photo booth
Hare: Bella Capelli
Grimering: Bruid self
Bruidegom se pak: Alexander Suits

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA