’n Troue is wat gebeur wanneer ’n vriendskap ontwikkel in iets meer. Minette Badenhorst deel hierdie mooi verhaal met ons.

 
Hierdie pragtige troue met delft blou het dadelik my oog gevang. Die kombinasie daarvan met die pienk blomme was perfeksie. Nico en Cecile se goeie vriendskap het verander in ʼn liefde wat vir ewig bedoel is. Hulle vertel ons meer van hulle liefdesverhaal en die beplanning van hulle troue.

HOE HET JULLE LIEFDESVERHAAL VOOR DIE TROUE BEGIN?
“Ek het in Engeland groot geword en daar gestudeer. Toe ek klaar my graad gekry het, het ek besluit om bietjie Suid-Afrika toe te kom. Ek het toe saam met my nefie se vriende begin kuier. Dit is waar ek vir Nico ontmoet het. Ek en Nico was my eerste jaar in die Kaap goeie vriende gewees en ons het gereeld saam ʼn wyntjie gaan drink en ʼn fliek gaan kyk. Dit was eers na die eerste Desember vankansie wat ons mekaar nie so baie gesien het nie, dat ons besef het dit mag dalk meer as net ʼn vriendskap tussen ons wees. Ons het daardie Januarie toe ons mekaar weer gesien het besluit dat ons meer as net vriende wil wees. Die 25ste Januarie oor ʼn pizza en fliekaand het Nico my gevra om sy meisie te wees.”

WATTER EIENSKAPPE HET JULLE OP MEKAAR LAAT VERLIEF RAAK?
Cecile: “Die ding wat my die meeste na Nico aangetrek het is hoe eerlik hy is, wat jy sien is wat jy kry. Hy het ʼn rustigheid wat ek mal oor is en hy is nie bang om sy liefde vir my te wys nie. Ek love ook dat ons fondasie begin het met ʼn baie goeie vriendskap. Ons is net onsself wanneer ons bymekaar is en vir my is dit die mees belangrikste as dit kom by ʼn goeie verhouding.”

WANNEER HET JY GEWEET DAT JULLE VIR MEKAAR BEDOEL IS?
“Ons het nogals vroeg in ons verhouding geweet dat ons eendag saam gaan troue hou. Ek dink omdat ons van dag een af ʼn baie sterk vriendskap gehad het en dadelik baie gemaklik gevoel het met mekaar, het ons vinnig met mekaar gedeel hoe ons voel en wat ons graag wou hê uit die verhouding.”

HOE HET HY DIE GROOT VRAAG GEVRA VOOR DIE TROUE?
“Ons het Desember 2016 vir my ouers in Engeland gaan kuier vir Kersfees. Dit was ook die eerste keer wat Nico oorsee gegaan het. Ons het die aand van 28 Desember besluit om ʼn cocktail te gaan drink in die Shard, wat die hoogste gebou in Europa is. Die aand was so mooi en mens kon al die kersliggies van Londen sien van bo af. Hy het my toe gevra tussen die mooi kersliggies hoog bo Londen. Dit was so spesiaal want ek was in my stad waar ek gestudeer het en groot geword het. Hy het onthou dat ek genoem het dat ek graag my verlowing met my gesin sou wou deel omdat hulle so vêr van ons bly.”

VERTEL ONS MEER OOR DIE BEPLANNING VAN JULLE TROUE?
“Die heel eerste ding wat ons gedoen het was om ons venue te bespreek, en Nooitgedacht was nog altyd my droomlokaal gewees met hulle sprokies tuin en mooi groot bome. Ek sal ook sê dat dit belangrik is om te bespreek, want dan het jy jou datum so jy kan dan maklik jou fotograaf, blomme en dekor ook vasmaak. Ek het toe dadelik al die ander goed bespreek wat vir ons die belangrikste was (fotograaf, blomme, grimering en hare, DJ, ens). Daarna, soos die meeste bruide, het ek ʼn Pinterest-bord begin met prentjies van goed waarvan ek gehou het. Ek was nog altyd ʼn pienk poppie, so het geweet dat ek graag ʼn pienk troue sou wou hê. Wat ek wel nie besef het nie is dat ek trou met ʼn man wat pienk verpes! Dit is toe ons besluit het om meer blou in te bring en ʼn pienk en blou troue te hê. Gelukkig was die vorige jaar se Pantone-kleure ligblou en pienk gewees so daar was baie inspirasie op sosiale media gewees. Nico se gesin kom oorspronklik van Nederland af so dit was ook vir my ʼn oulike idee om Delft-blou prints in te bring by ons tema.

Blomme was baie belangrik vir my gewees en ek het geweet dat ek ʼn baie vars somer look wil hê. Ons was ook baie gelukkig met ons venue-keuse gewees want Nooitgedacht is so mooi dat jy nie veel hoef te doen om ʼn wow-faktor te kry nie.

Ons het ook vroeg in die beplanning gesit en ons begroting opgedeel en besluit wat is vir ons die mees belangrikste vir die dag. Ons het ʼn spreadsheet opgestel sodat ek kon kop hou met wat ons spandeer. Ek het ook baie vroeg begin kwotasies kry van klomp verskaffers sodat ons ʼn idee kon kry van wat goed kos. Dit het ons baie gehelp om in ons begroting te bly en te danke aan die spreadsheet het ons glad nie oor ons begroting gegaan nie. Mens moet ook partykeer maar moeilike besluite maak want mens kan nie alles kry wat jy wou gehad het nie.”

WAT WAS DIE KLEURSKEMA EN DIE ATMOSFEER WAT JULLE WOU SKEP VIR JULLE TROUE?
“Ons troukleure was blou en pienk en die tema was ʼn baie vars somers troue. Ek wou graag gehad het dat ons troue formeel moes wees, maar nogsteeds ʼn prettige en rustige atmosfeer hê. Ek hou van ʼn baie romantiese en vroulike look, en ek voel dat ons dit reg gekry het.

Ons skemerkelkie-uur veral was amper soos ʼn piekniek gewees met al die buite bankies, liggies en pompoms gespan oor die kuier plek. Ons het ook ʼn vintage trokkie gehad wat bier geskink het vir ons gaste wat perfek gepas het by ons tema vir die dag.”

BESKRYF JULLE TROUE?
“Ons troudag het my nogals verbaas want dit was vir my baie meer emosioneel gewees as wat ek gedink het dit sal wees. Ek en Nico is nie verskriklik fisies in publiek nie en ons wys nie altyd ons liefde vir mekaar voor ons vriende nie, maar ons troudag was heeltemal anders gewees. Dit was vir my so spesiaal want op daai dag toe ek by die seremonie na hom toe stap was dit net ek en hy en ons kon altwee net sien hoe bly ons is om uiteindelik ons liefde voor almal vir wie ons lief is te bevestig. Die dag was ook presies soos wat ek dit beplan het en die saal kon nie mooier gelyk het nie. Ek was so in my noppies oor ons blomme en mens kon al die harde werk wat in al die detail ingegaan het sien.”

WAS DAAR ENIGE IETS EKSTRA SPESIAAL OP JULLE TROUE WAT JY SAL ONTHOU?
“Nico se pa is so paar jaar terug oorlede en Nico het toe sy pa se trouring geërf, wat baie spesiaal was. Om dankie te sê dat Nico sy pa se ring kon erf, het ek vir sy ma ʼn geskenkie gekoop wat ek op die dag vir haar gegee het. Ek het vir haar ʼn vintage locket-hangertjie gekry van Engeland af met ons troudatum agterop gegraveer met ʼn foto van Nico se pa binne in. Dit was ʼn baie spesiale oomblik vir my gewees en was lekker om te weet dat iets van Nico se pa op die dag saam met ons was.”

ENIGE ITEMS WAT JULLE SELF GEMAAK HET VIR JULLE TROUE?
“Ek het ʼn paar selfdoengoedjies gehad wat ek voel net meer van my en Nico se persoonlikheid gewys het op die dag.
Die goue bakke wat van ons blomme in was het ek en my ma goud gespuit. Dit was oulik, want ek kon die mooi bakke aan die einde van die aand vir mense uitdeel sodat hulle die blomme verder kon geniet het by die huis.

Al die skryfbehoeftes het ek self ontwerp en die uitdruk daarvan gedoen. Die blommemeisies se rokkies het ek self gemaak asook die lapblommetjies op hulle beltjies. Hulle het so pragtig gelyk en dit was vir my baie spesiaal om hulle deel te hê van die dag.”

Hierdie troue het vir Nico en Cecile ontvou soos hulle dit nog altyd voorgestel het. Met wonderlike verskaffers wat hulle drome bewaarheid het en ʼn pragtige venue wat perfek by hulle tema en kleurskema ingepas het, was dit ʼn sprokie.

DIENSVERSKAFFERS
Venue, Spyseniering: Nooitgedacht
Koördinering: Kristin du Toit
Drankies: Faith Brewing Company
Dekor: N Concepts
Blomme: Blommeprag
Troukoek: Tasha’s (wortelkoek) en Tessa’s Bakery (vanielje- en sjokoladekoek)
Skryfbehoeftes: Ontwerp deur die bruid en gedruk deur ʼn vriend
Foto’s: Linda Fourie Photography
Vidoegraaf: Jonathan Misnuner
Musiek en Vermaak: Your DJ
Trourok: Janita Toerien
Bruidegom se uitrusting: Country Road van Woolworths
Grimering en Hare: Martie Olivier

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA