’n Troue in die buitelug was James en Helen se voorland. Minette Badenhorst vertel meer oor hierdie paartjie se spesiale dag.

Hulle het ontmoet by wedersydse vriende se bruidspartytjie-braai. Hy was ʼn strooijonker en sy ʼn bruidsmeisie. Hulle het nie noodwendig onmiddellik oor die weg gekom nie, maar soos die aand se kuier verloop het, het die tweetjies so lekker begin gesels tot die son opgekom het. James het steeds na so lekker kuier nie Helen se nommer gevat nie, maar toe sy by die huis kom was daar ʼn boodskap in haar inbox van hom, wat sê hy gaan spyt wees dat hy nie haar nommer geneem het nie, so net vir ingeval hier is syne. Soos hulle sê, die res is geskiedenis en vandag deel ons hulle troue met julle.

WATTER EIENSKAPPE HET JULLE OP MEKAAR LAAT VERLIEF RAAK VOOR DIE TROUE?
Helen: “Ek het verlief geraak op sy aantreklikheid, die klank van sy stem en die kontras van sy hardkoppige natuur wat gekombineer was met so ʼn intense deernis teenoor my.”
James: “Ek het verlief geraak op haar sterkwilligheid en sy vat nie nonsens van enigiemand nie.”

HOE HET HY DIE GROOT VRAAG GEVRA?
“Ons het verloof geraak in September 2016 tussen die Franschoek se berge. James het alles beplan tot op die laaste detail. Piekniek op die perfekte plek, ʼn mandjie vol lekkernye en êrens tussen dit alles die pragtigste ring. Na hy my gevra het en ek natuurlik ja gesê het, het sy senuwees die oorhand gekry en hy het die sjampanje oor my uitgemors. Ons het uitgebars van die lag en so die res van die dag met die reuk van sjampanje en geluk deurgebring.”

VERTEL ONS MEER VAN JULLE TROUE SE BEPLANNING?
“Ons het begin deur na venues te kyk. Dit het ons meer as ʼn maand geneem en verskeie uitstappies na venues om op Zorgvliet af te kom. Al die plekke waarna ons gaan kyk het was pragtig, maar ons het besluit dat ons ʼn kapel wil hê, en op die ou end was dit die beslissende faktor. Die volgende was die soektog na die perfekte fotograaf, haar en grimeerkunstenaars, en natuurlik vermaak vir die aand. Alles word bepaal deur die tipe atmosfeer wat mens as ʼn paartjie wil skep vir jou troue. Nadat hierdie dienste almal geboek was, het ek ontspan tot vroëer in die jaar. Die klein goedjies was vir ons belangrik en het ons troue vir ons spesiaal gemaak. By die seremonie het een van ons goeie vriende die diens gedoen. Dit het dit baie persoonlik vir ons gemaak en ons was mal oor die manier wat sy alles hanteer het. Ons wou al ons gaste verwelkom by die troue, omdat hulle almal so baie moeite gedoen het om daar te wees en saam met ons te vier. Ons susters het beide as seremonieminaresse opgetree, en het ʼn wonderlike taak verrig om die twee families en twee tale te verteenwoordig.”

WAT WAS JULLE KLEURSKEMA EN WATTER ATMOSFEER WOU JULLE SKEP VIR JULLE TROUE?
“Ons het pastelkleure gekies vir ons troue. Ons wou hê dit moes sag wees maar ook feestelik. Ek het geweet dit gaan moeilik wees om myself net tot een kleur te beperk, en het dus besluit op veelvoudige kleure van pastel skakerings. Ons wou hê dat ons troue meer van ʼn samekoms van families moes wees, en wou hê dat ons gaste kon rondbeweeg en vry voel om te meng en kuier. Daarom het ons besluit op ʼn mark tipe atmosfeer met kosstasies, ʼn koffiestalletjie en ʼn massiewe koektafel. Daar was lang tafels aan die buitekant, asook cocktail-tafels rondom die hele venue. Dit het so lekker gewerk, en die live band het net nog ʼn element bygevoeg. Ons wou hê dat daar ʼn ontspanne en feestelike atmosfeer moes wees, met almal wat hulself geniet.”

BESKRYF JULLE TROUDAG?
“Dit was ʼn ongelooflike dag gevul met so baie gelukkige herinneringe. Ons albei se gevolg was saam met ons vanaf vroeg die oggend en ek het so baie pret gehad saam met my drie bruidsmeisies. Dit was ʼn lekker groep meisies bymekaar en die sjampanje het gevloei, en dit het sommer ook die ergste senuwees laat kalmeer. Hulle was dalk meer opgewonde oor die troue as ek. Die drie meisies is my beste vriendinne, vanuit verskillende stadiums van my lewe (skool, universiteit en werk), en hulle kom ook goed oor die weg so daar was geen drama nie. Ek weet James het ook lekker pret gehad want hulle het wynproe gaan doen voor die seremonie. Hulle het geen bekommernisse gehad nie (behalwe nou vir die bietjie senuwees), en Bianca het hulle gekry om te lag vir die kamera, wat ʼn wonderwerk was.
So lekker as wat die voorbereiding was, was ek so gelukkig en verlig toe ek vir James sien staan voor in die kapel. Die opbou tot daardie oomblik is so groot, dat dit net lekker was om vir hom ʼn drukkie te kon gee en besef dat ons dit tot hier gemaak het. Die seremonie was baie spesiaal en daar was baie trane en gelag, maar verseker al die stres werd. Die onthaal was ongelooflik lekker en prettig. Soos ons aangestap gekom het kon ons die band hoor speel en mense wat lekker gesels en kuier. Dit was presies wat ons wou gehad het. Die reuke vanuit die kosstalletjies wat besig was met die voorbereiding van die kosse was in die lug, en die koektafel het fantasties gelyk. Ons het ook ʼn tafel gehad met Polaroid-kameras en ʼn trouboek waar mense foto’s kon neem en inplak, en vir ons boodskappies kon byskryf. Dit was baie lekker en almal het foto’s geneem deur die aand wat hulle ook saam kon neem huistoe, wat ook sommer as impromptu dankiegeskenkies gedien het. Die diensverskaffers het spesifiek verstaan wat die gevoel was wat ons wou hê by die troue en hulle het gesorg dat alles perfek saampas; van die dekor af regdeur tot by die kosstasies. Die mark-atmosfeer met die informele tafels en mense wat rond kon beweeg, tesame met kinders wat speel en lag, het die dag meer spesiaal gemaak as wat ons ooit kon droom. Ek dink nie dat woorde dit volkome kan beskryf nie.”

HET DAAR ENIGE IETS SPESIAAL GEBEUR OP JULLE TROUE?
“Ons het besluit om ons eie troubeloftes te skryf wat ons aan mekaar wou voorlees. Ons het albei gehuil terwyl ons dit aan mekaar gesê het. Dit was ʼn baie spesiale oomblik vir ons, want dit het ons verhouding mooi vasgevang en ook ʼn bietjie van dit aan ons familie en vriende gewys. In plaas van die gooi van die ruiker, het ons al die getroude paartjies moes na die dansvloer geroep en ons het iets soortgelyk aan musical chairs gespeel. Op die einde was ʼn paartjie oor wat al vir 38 jaar getroud was, en ons het die ruiker aan hulle gegee. Dit was ʼn spesiale oomblik en die getroude paartjies het dit ook baie geniet.”

WATTER RAAD SAL JY DEEL MET TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“Om troue te beplan neem baie van jou tyd in beslag en jy moet die advies van die regte en hulpvaardige mense kry en die onnodige opinies van ander ignoreer. Ek sal ook voorstel dat elke bruid ʼn professionele persoon kry wat die troubesigheid ken. Margaux was vir ons daardie persoon en dit het vir ons die wêreldse verskil gemaak om haar op boord te hê. As ʼn bruid moet jy onthou dat dit jou dag is, so ontspan. Die reistog van die beplanning van jou troue is tog die lekkerste. Dit is jou dag maar dit gaan ook oor julle families. Moenie te veel oor die klein dingetjies kommer nie en moet nie fokus verloor van wat jou troue ongelooflik maak nie. Neem 10 minute gedurende die onthaal en ontsnap vir daardie oomblik saam met jou nuwe man om die lieflikheid van julle nuwe unie in te neem.”

Die marktema is ʼn besonderse unieke manier om die interaksies tussen gaste by jou troue te bevorder en om die gaping van diversiteit te oorbrug. Dit gee die geleentheid vir ʼn prettige en woelige toneel wat die onthaal lewendig sal hou.

DIENSVERSKAFFERS
Venue: Zorgvliet Wine Estate
Spyseniering: Zest Catering
Koördinering: Blank Canvas Event Design (Margaux van den Berg)
Blomme en Dekor: Sitting Pretty Bespoke Event Design
Skryfbehoeftes: Invitation Café
Troukoek: Kanya Hunt
Foto’s: Bianca Smit Photography
Musiek: Trilogy Music
Vermaak: Trilogy Jazz Band (Live band deur Trilogy Music)
Trourok: Ilse Roux
Bruidegom se uitrusting: Fabiani
Hare en Grimering: Jenro Beauty
Koffiestalletjie: Coffeeright

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA