’n Troue gaan altyd voort, selfs al verloop alles nie volgens plan nie. Morné en Cecile se dag was sprokiesmooi. Minette Badenhorst het meer hieroor gaan uitvind.

Selfs nie ʼn stormagtige reënbui, kon hierdie paartjie se groot dag bederf nie. Hulle sê dit is ʼn seëning as dit op jou troudag reën, en hierdie was beslis ʼn geseënde dag. Geloof en liefde was in oorvloed op hierdie spesiale dag. Cecile en Morné vertel ons meer oor hulle liefdesverhaal en die beplanning van hulle troue.

HOE HET JULLE LIEFDESVERHAAL BEGIN VOOR DIE TROUE?
“Ek en Morné het by die Noordwes-Universiteit ontmoet, waar ons saam studeer het. Na twee en ʼn half jaar van vriendskap het dit ontaard in ʼn mooi verhouding tot waar ons voor die kansel staan.”

WATTER EIENSKAPPE HET JULLE OP MEKAAR LAAT VERLIEF RAAK?
“Ons vriendskap het die basis gevorm waarop ons verhouding gebou is. Die feit dat ons geloof en waardes dieselfde is en dat ons baie gemeenskaplike belangstellings en stokperdjies het, het dinge vergemaklik. Ons geniet dit om saam avonture en uitdagings aan te pak en kan lekker saam lag en die klein dingetjies in die lewe geniet en waardeer.”

HOE HET HY DIE GROOT VRAAG GEVRA VOOR DIE TROUE?
“Terwyl ons gekuier het by my sussie-hulle in Amsterdam, was ons een middag by my gunstelingplek en daar, terwyl die son sak, gaan Morné op sy knie en vra die groot vraag.”

VERTEL ONS MEER VAN DIE BEPLANNING VAN JULLE TROUE?
“Na aanleiding van ons troubegroting, het ons begin om ʼn venue te soek sodat ons die datum kon vasstel. Ons is mal oor die natuur en dit het ons besluit vergemaklik toe ons De la Mas besoek en dadelik geweet het ons wil in die bos trou (min wetend dit gaan reën op ons troue en dat ons onderdak sou trou). Nadat die venue bespreek is, het ons begin met ʼn gedetaileerde beplanning van wat alles gedoen en gereël moet word. My ma het baie gehelp met al die trounavorsing en -idees en rondbel vir kwotasies. Nadat die datum vasgemaak is, het ons al ons verskaffers wat ons wou gebruik vir die dag naamlik fotograaf, videograaf, DJ, predikant en grimeringkunstenaars bespreek. Die troubeplanning het verder redelik maklik gegaan omdat ons die troue en dekor baie aards en natuurlik wou hou. Ons ouers, strooimeisies en strooijonkers het ook baie gehelp die week voor die troue om seker te maak al die laaste reëlings en take word uitgevoer.”

WAT WAS DIE KLEURSKEMA EN DIE ATMOSFEER WAT JULLE WOU SKEP VIR JULLE TROUE?
“Die tema was natuur en aards en die kleure was sage en wit. Vir die dekor het ons gegaan vir minimalisme en wou alles baie natuurlik hou. Die seremonie sou aanvanklik (voordat dit begin reën het) in ʼn bos gewees het. Ons wou ʼn gemaklike, natuurlike, spontane en vreugdevolle atmosfeer geskep het. Met al ons familie en vriende se teenwoordigheid kon die dag nie anders as perfek en sprokiesagtig gewees het nie. Ons familie en vriende se teenwoordigheid was vir ons baie belangrik en daarom het ʼn grootter deel van ons begroting gegaan om meer van hulle te kon nooi. Ongelukkig is ’n mens altyd beperk met getalle.”

BESKRYF JULLE TROUE?
“Die dag kon nie meer perfek gewees het nie. Ek, die strooimeisies, my ma en skoonma het sommer die oggend vroeg begin met ʼn lekker ontbyt en daarna verder by die venue gaan ontspan en regmaak. Dit was so kosbaar om die oggend kwaliteit tyd saam met hulle te spandeer. Die seremonie was vir my en Morné ʼn groot hoogtepunt van ons troue. Dit is moeilik om daardie gevoel te verwoord as jy afstap in die kerk en jou man sien. Daardie oomblik wanneer jy voor God as die groot getuie, al jou vriende en familie virewig trou aan mekaar beloof, was so spesiaal en intiem. Elke oomblik was so vreugdevol, vanaf die eerste oomblik wat ek Morné gesien het tot die laaste liedjie waarop ons gedans het. Na die seremonie was die kuier en dans vir ons verskriklik lekker en ook definitief ʼn hoogtepunt gewees.”

WAS DAAR ENIGE SPESIALE OOMBLIKKE WAT JULLE WIL DEEL?
“Die uur voor die seremonie het daar ʼn groot reënbui uitgesak. Ons was nog in die bruidskamer en kon mekaar skaars hoor onder die druppels op die sinkdak. Ek bid net in die kar oppad kapel toe dat dit asseblief sagter moet reën sodat die mense die preek kan hoor. Die reën het nog saggies geval toe die strooimeisies en ek en my pa instap, maar toe die dominee begin praat sien ek net die wolke ooptrek agter hom met die blou lug wat daardeur breek. Die reën het opgehou en almal kon die dominee en sy preek baie mooi hoor. Die reën het vir ons ʼn baie sprokiesagtige atmosfeer geskep en is ook altyd ʼn seën. Laat in die aand was daar ʼn verrassing wat my sussie (Ina) en swaer (Chris) vir ons gemaak het (na baie laat aande en harde werk). Hulle het ʼn video gemaak van Kaptein span die seile met snitte van meeste van die gaste wat elkeen op ʼn deel van die video hulle eie weergawe/dansie uitvoer. Dit was so groot verrassing en ons het dit verskriklik geniet.”

WATTER RAAD SAL JY DEEL MET TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“Geniet elke oomblik van die dag. Neem ʼn paar sekondes elke nou en dan om alles in te neem en te waardeer. Besluit op ʼn paar goed wat vir julle belangrik is vir/op julle troue en fokus daarop, moenie laat die res jou dan te veel bekommer nie. Geniet en fokus (voor en tydens die troue) op die dinge waarop julle besluit het en wat vir julle belangrik is. Neem baie foto’s en videos en begin die dag so vroeg as moontlik en kuier tot so laat as moontlik.”

WAS DAAR ENIGE VAN DIE TROU-ITEMS WAT JULLE SELF GEMAAK OF GEDOEN HET?
“Ons het baie familie en vriende gehad wat almal gehelp het en bygedra het tot ons troue en veral die dekor. My pa, skoonma, Morné se ouma en my tannie het die blomme gedoen. My skoonpa het die houtkissies vir die blomme gebou. My skoonsussie, Christine, het die troukoek gebak en my broer Izak het bykomende kolwyntjies gebak. Vir plekmatjies het ons, ons verlowingsfoto’s wat deur my vriendin, Roelien (Worthit Photography) geneem is laat druk op A3-papier. Die strooimeisies het ook almal gehelp met hulle kopkransies en al die ruikers self gemaak.”

DIENSVERSKAFFERS:
Venue en Spyseniering: De la Mas
Koördinering: Bruid se ma
Drankies: Legends Brewery
Dekor en Blomme: Familie
Troukoek: Christine du Toit
Foto’s: Oliv’ Photography
Videograaf: Vlakvark Productions
Musiek: DJ Pauly
Vermaak: Bernard, Jannes en Laura (Orkes in die Kerk)
Trourok: Timeless Bridal Couture
Hare: Ili Kirsten
Grimering en Naels: Liezl Skincare & Beauty en Talita van Pure Senses Make Up
Bruidegom se uitrusting: Be-Li

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA