’n Troue in Marisa Jonker se gunstelingkleur, donkerpers, was die aangewese keuse vir die dag toe sy en Ian Jonker die knoop sou deurhaak. An-Sophie Lourens deel hierdie mooi verhaal met ons.

Alhoewel die getroude paartjie saam op skool was, het hulle nie eintlik van mekaar geweet nie. Dit was eers heelwat later wat hulle paaie bestem was om te kruis. Ons het gaan hoor hoe hulle van kennisse tot troue beweeg het.

HOE HET JULLE LIEFDESVERHAAL BEGIN?
“Ons was saam op skool gewees, maar het nooit regtig mekaar raakgesien nie. Ek het na skool oorsee gaan werk en met my terugkoms Suid-Afrika toe, het ons gemeenskaplike vriende gehad. Ons het ʼn paar keer saam gekuier as vriende en vandaar het ʼn verhouding ontwikkel, wat tot ’n troue gelei het.”

WATTER KARAKTEREIENSKAPPE HET GEMAAK DAT JULLE VERLIEF RAAK OP MEKAAR?
“Ek het verlief geraak op Ian se kalm en agtermekaar persoonlikheid, asook die gemoedsrus wat hy uitstraal. Dit is heeltemal die teenoorgestelde van wat ek is!”

HOE HET HY DIE GROOT VRAAG VOOR DIE TROUE GEVRA?
“Hy het die ring laat maak, maar nie ʼn vaste plan gehad van wanneer om my te vra nie. Op my verjaarsdag laas jaar, het hy besluit vandag is die dag. Hy het my sussie en my beste vriendin gebel om hom te help om ʼn groot plakkaat en foto’s met kerse reg te kry. Terwyl ek die heeltyd onder die indruk was dat ons na ʼn familiebyeenkoms toe gaan vir my verjaarsdag, het hy beplan om my te vra om sy vrou te word.”

VERTEL ONS MEER VAN DIE BEPLANNING VAN DIE TROUE?
“Ek wou nog altyd ʼn klein, intieme troue gehad het, met net ons naaste vriende en familie. Ek het baie lank gewag voor ek begin beplan het. Heelwat later het ek besef dat dit nie so ’n klein troue gaan wees nie en het toe ʼn troubeplanner aangestel. Ek was nog altyd lief vir pers kleure, so ek het geweet, dis sonder twyfel my kleurskema. Al wat ek vir Estie, die troubeplanner gesê het was, ek wil hê sy moet my troue beplan met proteas, perskleure, olyfgroen en goud. Sy het alles van daar af hanteer.”

RAAD AAN TOEKOMSTIGE BRUIDE WAT TROUE BEPLAN:
• Bly altyd kalm.
• Indien moontlik stel ʼn troubeplanner aan, dit maak alles minder gekompliseerd.
• Hou jou begroting in gedagte!
• Neem elke oomblik in.
• Moenie jouself bekommer oor ander mense nie, die dag gaan immers oor julle.

WATTER ATMOSFEER WOU JULLE BY DIE TROUE SKEP?
“ ʼn Bietjie dramaties, maar nie ʼn stywe affêre nie. Ons wou hê al die gaste moet hulleself kan geniet.”

BESKRYF DIE DAG VAN JULLE TROUE?
“Dit was in ʼn oogwink verby. Almal was so kalm, so dit was net maklik om elke oomblik te geniet. Daar was emmersvol trane van geluk en opwinding. Alhoewel alles anders ook perfek was onthou ons meestal die geluk en vreugde wat ons met ons vriende en familie gedeel het.”

HET DAAR IETS AGTER DIE SKERMS GEBEUR?
“Alles is te dank aan Estie, sy het alles perfek gereel en het al die onnodige stres van my afgehaal.”

HET DAAR IEST SPESIAALS OP JOU TROUDAG GEBEUR?
“Na ʼn warm, sonskyn dag het dit die aand begin reën. God se seën het op ons neer gereën.”

Ian en Marisa Jonker se lewenspaaie kon al vroeër gekruis het, maar dit het gebeur op net die regte tyd. Hulle beeldskone troue het hulle nuwe avontuur saam bevestig saam met die gelag van vriende en familie.


DIENSVERSKAFFERS:
Venue, spyseniering en drankies: Mellow Stream Wedding Venue
Koördineerder, blomme, dekor en skryfbehoeftes: Estie Jovner
Fotograaf: Erin Palm Photography
Musiek: Need a DJ Entertainment
Trourok: Lovingsdresses
Hare: Miriam Van Rooyen
Grimering: Rosa Kotze
Bruidegom se uitrusting: Edgars

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA