’n Troue in elegante skakering was Alex en Nicci se plan. Minette Badenhorst vertel ons meer oor die beplanning van hulle mooiste dag.

Hierdie pragtige troue in wit en groen, met roosgoud-aksente vir ʼn klassieke en elegante styl, was perfek vir hierdie pragtie paartjie. Dit was ʼn troue waar hulle gaste lekker en gemaklik kon saamkuier en hierdie spesiale dag met hulle kon deel. Alex en Nicci vertel ons meer van hulle liefdesverhaal en die paadjie na kansel.

HOE HET JULLE LIEFDESVERHAAL BEGIN VOOR DIE TROUE?
“Ons het ontmoet by die Oppikoppie Musiekfees, nadat ons saam met gemeenskaplike vriende gekamp het. Ons was van daar af onafskeidbaar.”

WATTER EIENSKAPPE HET JULLE OP MEKAAR LAAT VERLIEF RAAK?
Nicci: “Dit was Alex se goeie siel. Daar is niemand meer bedagsaam, sag en warm as hy nie. Ek is ook lief vir lang ouens en op 1,9m lank het hy verseker daardie boksie getiek.”
Alex: “Nicci se pragtige bruin oë, en haar ongelooflike omgee en vriendelikheid vir alle diere.”

WANNEER HET JY GEWEET DAT JULLE VIR MEKAAR BEDOEL WAS?
“Ons verjaarsdae is net een dag uitmekaar en toe ons dit uitgevind het, het ons net geweet. Almal sê altyd hoe soortgelyk ons is en ons voel regtig soos een siel in twee liggame.”

HOE HET HY DIE GROOT VRAAG GEVRA?
“Ons het na Mauritius gegaan vir vakansie en teen sonsondergang op die strand, voor ons privaat villa, het hy die vraag gevra. Hy het eers ʼn week voor die tyd besluit om my te vra en in daardie tyd ʼn persoonlike ring ontwerp en die perfekte diamant gevind.”

VERTEL ONS MEER DIE BEPLANNING VAN JULLE TROUE?
“Onmiddellik na ons tuiskoms van Mauritius het ek met die beplannings begin. Binne ʼn paar maande het ons die venue, fotograaf, hare en grimering, uitnodigings en koek uitgesorteer.

Ek het baie idees op my Pinterest gepin, en dit het regtig gehelp om ʼn volledige visie te skep van wat ek wou hê. Ek het ook elke bruidstydskrif gekoop wat ek kon vind.

Wat die begroting betref, moenie versoek word om oor jou begroting te gaan nie. Besluit op ʼn paar nie-onderhandelbare items en vind maniere om op die ander items te spaar. Die dae en weke na die troue sal jy dankbaar wees hiervoor en jou dag sal net so mooi wees sonder die blommuur of monogramblare vir elke gas. Moenie vergeet om rokveranderings en -verstellings, hare en grimeringsproewe, en laaste minuut dingetjies in te reken by jou begroting nie.”

WAT WAS DIE KLEURSKEMA EN DIE ATMOSFEER WAT JULLE WOU SKEP VIR JULLE TROUE?
“Ons het wit, groen en roosgoud gekies as ons troukleure. Ons venue het pragtige versorgde tuine, en dus het ons nie nodig gehad om veel met blomme te doen nie. Die roosgoud het ʼn klassieke effek bygevoeg. Ons wou ʼn minimalistiese tema doen om uit te lig wat regtig belangrik was, en dit is ons liefde vir mekaar.

Dit was vir ons belangrik dat ons gaste ʼn goeie tyd het. Ons is lief vir elkeen van ons gaste en om hulle daar te kon hê om te deel in ons spesiale dag was onvergeetlik spesiaal. Om te help met die atmosfeer, het ons noukeurig ons kos en wyn, musiek seleksie en vermaak gekies. Gaste het die grasperk speletjies, jenewerkroeg en photobooth wat twee strokies foto’s vir elke persoon gedruk het met ʼn persoonlike aanhaling daarop, vreeslik geniet.”

BESKRYF JULLE TROUE?
“Cliché maar waar, dit was die beste dag van ons lewens. Alles het perfek saamgekom en dit was so ʼn lekker dag. Ek was heeltemal ontspanne toe ons klaargemaak het, maar die senuwees het begin toe ons na die kapel stap. Toe ek by die kapel inkom en sien dat Alex daar staan, het niks anders in die wêreld saak gemaak nie. Ek sal daardie oomblik vir ewig koester. Dit was wonderlik om die maande van beplanning uiteindelik te sien saamkom.”

WATTER RAAD SAL JY DEEL MET TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“As jy dit in jou begroting kan inpas, sal ek elke bruid aanraai om ʼn videograaf te kry. Alex se ouers se geskenk aan ons was ʼn videograaf op die troudag en dit was so spesiaal om ons geloftes, toesprake en eerste dans vasgevang te hê op video.

Nog ʼn wenk: Sit ekstra tyd by vir hare en grimering in jou tydsbeplanning. Ek het vir ons ʼn ekstra uur gegee, en as ek dit nie gedoen het nie sou ons vreeslik laat gewees het vir die seremonie. Vra jou fotograaf om jou te help om hierdie ekstra tydjies in te werk op jou tydlyn. Indien julle dit nie nodig het nie, het julle altyd meer tyd vir fotos neem. Almal sê altyd dat iets verkeerd sal gaan op jou groot dag, maar as jy behoorlik beplan hoef dit nie die geval te wees nie.”

WAS DAAR ENIGE VAN DIE ITEMS VIR JULLE TROUE WAT JULLE SELF GEMAAK HET?
“Ons het die skryfbehoeftes self gemaak. Ons het ʼn vriend gevra wat ʼn grafiese ontwerper is om die spyskaarte, drinkie keuses, tydlyn en uitnodigings te ontwerp en ons het die self gedruk met hoë kwaliteit papier wat ons gekoop het.”

DIENSVERSKAFFERS
Venue en Spyseniering: Toadbury Hall Country Hotel
Drankies: Nitida Wines, Alvi’s Drift
Dekor: Moi Décor Hire
Blomme: The Bloom Room
Verhurings: The Pink Label
Troukoek: Fabiola’s Cakery
Foto’s: GDG Photography
Videograaf: Pink Flower Productions
Musiek: Disco Kings
Vermaak: Fabulous Photobooths
Trourok: Olivelli
Grimering en Hare: Marita Keet
Bruidegom se uitrusting: Khaliques

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA