’n Troue was die uiteinde van twee teenpole wat liefde in mekaar gevind het. An-Sophie Lourens deel hierdie storie met ons.

Hulle sê opposites attract, en in hierdie geval was dit verseker waar. Sam, die Engelse dromer en Marleen, die Afrikaanse realis se paadjies het gekruis by ʼn Fakulteit-kommiteevergadering op Stellenbosch. Na ʼn piekniek by die Hangbrug op hulle eerste afspraak, het hulle liefde net aanhou blom. Hulle deel hulle liefdespaadjie en pragtige troue met ons.

WATTER EIENSKAPPE HET JULLE OP MEKAAR LAAT VERLIEF RAAK VOOR DIE TROUE?
Marleen: “Sam is ʼn dromer en ek is meer ʼn realis. Ek het verlief geraak op hom omdat hy so ʼn passie het vir kosmaak, hardloop en vele ander dinge, en ook omdat hy belangstel in verskeie dinge. Hy het ʼn groot omgee hart met baie sterk familie waardes en verras my steeds elke dag met wat hy doen, hoe romanties hy is en sy liefde vir die lewe.”
Sam: “Ek het verlief geraak op Marleen omdat sy so omgee vir mense. Ek het verlief geraak op haar onskuldigheid oor sekere dinge en al die dinge wat sy aanvang (sy is glad nie ʼn praktiese mens nie).”

HOE HET HY DIE GROOT VRAAG VOOR DIE TROUE GEVRA?
“Ons was in Franschhoek vir vriende se troue die Saterdagaand. Ek was oortuig hy sou my die Maandag in Stellenbosch vra, so toe hy die Sondagoggend 06:00 opstaan en sê hy wil met die Franschhoek pas opry om na die sonsopkoms te kyk, het ek nie veel daarvan gedink nie. Ons het toe gestop op die pas en gekyk na die sonsopkoms en toe hy sê ons moet maar teruggaan, en ek niksvermoedend omdraai, was hy op sy knie.”

VERTEL ONS MEER VAN JULLE TROU BEPLANNING, KLEURSKEMA EN DIE ATMOSFEER WAT JULLE WOU SKEP VIR JULLE TROUE?
“Ek is baie lief vir beplanning en is ʼn baie sentimentele en persoonlike mens. Ons wou beide kalm kleure vir ons troutema hê, wat ook ingepas het by ons onthaalplek. Die kleure was navy, vuilpienk, beige en roosgoud en ons tema was rustic vintage. Die dekor het ons self gedoen asook al die blomme op die tafels behalwe die troutafel s’n. Ons wou dit baie tradisioneel, persoonlik en sentimenteel hou. Al die kant wat op die dag gebruik was, is my ouma s’n, die mes waarmee die troukoek gesny is behoort aan my oorlede ouma, die tas en lap wat gedien het as houer vir geskenke is my ouma s’n en self deur haar geborduur so 40 jaar gelede. Hierdie was alles deel van die persoonlike en sentimentele touches wat ons wou hê.

Ons wou hê dat die troue ons as paartjie weerspieël en ek het baie van my ouma se kant net voor die troue ontvang. Ek het die kant orals ingebring, met sagte vuilpienk lopers (slegs die bruidstafel het ʼn tafeldoek gehad want Delsma se tafels is ongelooflike mooi donkerhout) en elemente van roosgoud orals. Pers en wit lisianthusse was my aksentblom tesame met eucalyptus blare en baie kerse. Ons wou ʼn romantiese gevoel skep met hope kerse wat brand op die tafels wanneer die gaste die saal binnekom.

Elke tafel se tafelnaam was ʼn herinnering van my en Sam se verhouding. Dit was soos ʼn oorgroot poskaart van iets wat in ons 6.5 jaar-verhouding gebeur het of iets wat vir ons belangrik was. So kon ons gaste ons vra wat die herinnering was en het dit die gevoel van a trip down memory lane geskep.”

BESKRYF DIE DAG VAN JULLE TROUE?
“Soos enige bruid sal ek sê die dag was perfek. Ek kan werklik nie aan enigiets dink wat verkeerd geloop het nie. Dit help om jouself met goeie verskaffers te omring en goed te kommunikeer vooraf. Dit het beteken dat ek geen bekommernisse op die dag gehad nie. Die dag was so spesiaal en dis ʼn nederige ervaring om te besef al jou geliefdes het saamgekom om net hierdie dag saam met jou te vier. Dit gebeur nie gereeld nie en dit maak dit so spesiaal. Om al die dekor en beplanning saam te sien kom was so spesiaal en daardie gesteelde oomblikke van net jy en jou nuwe man is so kosbaar. Ons troue was presies wat ons wou gehad het en ons sal die herinneringe vir altyd koester.”

HET DAAR ENIGE IETS SPESIAAL OF SELFS SNAAKS GEBEUR OP JULLE TROUE?
“Ek het ʼn baie lang sluier gehad wat toevallig in twee dele was (dit was onbeplan). Toe ek stilstaan in die kerk het die lang sluier ewe dramaties afgeval en kon jy my rok se mooi rug sien. Die tydsberekening daarvan was perfek en was asof dit beplan was. Verder het geen van ons bruidsparty daaraan gedink om vir ons ʼn programmetjie te hou nie, dus moes hul rondskarrel om vir ons een te kry sodat ons darem die liedere kon saamsing!”

WATTER RAAD SAL JY DEEL MET TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“My advies is om na verskeie blogs te kyk vir idees, en om na al die foto’s wat al by jou onthaalplek geneem is te loer vir idees van wat mense al gedoen het. Kyk na kreatiewe maniere om iets wat jy alreeds het te omskep (bv. die houer waarin ons trouprogramme was is eintlik ʼn ou portret se agterkant gewees), doen jou eie blomme sover jy kan en in plaas daarvan om net bv. rose te hê, gebruik eerder goedkoper opsies soos fynbos of eucalyptus blare en gebruik jou rose as aksent blom. Die beste raad wat my fotograaf vir my gegee het is om ʼn lys van familiefotos vooraf op te stel en iemand by die troue te kry om dit te koördineer want dit spaar baie tyd.

As dit enigsins kan, probeer jou gaste op of naby die onthaalplek te laat slaap. Ons het ook ’n lys van goed wat gaste in die omliggende dorpies kon gaan doen in elkeen se kamer gelos sodat die gaste die area kan ervaar en ook so besig gehou kan word.

Laastens, maak seker dat jou gaste geliefd voel, welkom voel, en nie moet wonder wat volgende gaan gebeur nie. Wanneer julle foto’s gaan neem, maak seker daar is genoeg kos en drank, sitplek en vermaak om hul besig te hou. Laat jou spyseniers of iemand by die troue vir julle ook van die eetgoed uithou want na die troue is jy rasend honger.”

ENIGE ITEMS WAT JULLES SELF GEMAAK HET?
“Al die aanwysingsborde het ek en my gesin self gemaak (veral my pa) en ek en my ma het ure spandeer aan vlaggies maak en kussingslope vir die sitplekkussings.

Ek en my man het die uitnodigings, plekmatjies (elkeen was ʼn individuele gedig of lirieke, Engels of Afrikaans, wat vir ons spesiaal was), die tafelnommers, kerkprogrammetjies, spyskaarte en tafelaanwysings self gemaak.

Ons het self die tafeldoek (bruidstafel) en lopers gemaak en al ons servette was van lap en is self gemaak met ons voorletters daarop ingeborduur. Elke geskenkie vir die gaste het ons self geverf en die koekies gebak. Ek en my man het al die clusters wat aan die mure gehang het met liggies self gemaak.

Buite het ek en my pa meeste van die speletjies (vir die skemerkelkie uur) self gemaak, asook die stringe liggies wat agter die bruidstafel gehang het. My ma het die troukoek van sjokolade, wortel en vrugtekoek gemaak met tuisgemaakte nougat.

Die uitrustings van die blommemeisies was deur my skoonma gemaak en ons konfetti was blare wat my broer in Stellenbosch gaan optel het (omdat ons in Stellenbosch ontmoet het wou ons iets van daar hê, plus dit is ook konfetti wat omgewingsvriendelik is). Die konfetti-houertjies is blaaie van ʼn telefoonboek wat ek gerol het en het my dus geen geld gekos nie.”

Hierdie troue het soveel oulike en persoonlike self doen items gehad wat verseker het dat dit ʼn dag vol sentiment was. Ons is ook mal oor die idee dat herinneringe van die paartjie se paadjie saam as tafelname gebruik was. Dit het die gaste so bietjie meer oor die paartjie geleer en ook wonderlike herinneringe opgebring om die groot dag te volmaak.

DIENSVERSKAFFERS:
Venue, spyseniering en drankies: Delsma Farm Accommodation and Function Venue
Koördinering, dekor en blomme: Self gedoen, met blomme gekry by Flower It in Wellington)
Ruikers, lapelruikers en bruidstafelblomme: INDEC Floral Design and Coordination
Verhurings: Something Borrowed
Troukoek: Crazy Daisy Bakery
Foto’s: LILAC Photography
Vidoegraaf: 25 Weddings Videographers
Musiek: Your DJ
Vermaak: AmaWolseley Marimba Band (tydens welkomdrankies)
Trourok: Kraaines
Bruidegom se uitrusting: Needletalk Creations
Grimering en Hare: Almari Hair Stylist and Make-Up Artist

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA