’n Troue met hope liefde en sprankel was Kristin en Jonker se droom. Minette Badenhorst het meer hieroor gaan uitvind.

Hierdie pragtige troue met die helder blomme dekor en sagte sjampanjegoue kleure het dadelik ons oog gevang. Dit is modern vermeng met opgewekte kleure en blinkhede om ekstra glans te verleen. Kristin en Jonker se toevallige herontmoeting een aand het uitgedraai in hulle eie sprokiesverhaal. Hulle vertel ons meer van hulle storie en die beplanning van hulle troue.

HOE HET JULLE LIEFDESVERHAAL BEGIN VOOR DIE TROUE?
“Ek en Jonker was toevallig in dieselfde skool, maar ons het mekaar nie geken nie. Een aand, oor ʼn naweek, het ek besluit om saam met my suster en haar vriende uit te gaan. Jonker het by dieselfde plek opgedaag saam met sy vriende wat toevallig my suster se vriende ontmoet het. Ek het hom dadelik herken van skool (dit was in my tweede jaar op Universiteit). Ons het begin gesels en die aand het verbygegaan, waar hy vir my totsiens gesê het met ʼn soentjie in die nek en gefluister het in my oor: “Ek sal jou vind”. Ek kon nie ophou aan hom dink die res van die aand en dae wat daarna gevolg het nie. Hy het my ‘gevind’ op Facebook en van daar af het hy belangstelling in my getoon en ek dieselfde in hom, wat gegroei het van verliefdheid na liefde.”

HOE HET HY DIE GROOT VRAAG GEVRA?
“Jonker het my vir ʼn naweek Rheedendal toe gevat, waar ons in die oulikste plekkie gebly het in die Knysnawoud, waar niks en niemand ons kon pla nie. Die dag wat ons daar aangekom het, het ons gaan inteken en die opsigter van die plek het ʼn paar keer gesê: “Good luck” en ek kon nie verstaan waarvan hy praat nie. Kon dit dalk vir die roetes wees wat ons wou gaan stap het of wild wat dalk in die woud rondloop en by jou huis opdaag? Ek het nie veel daarvan gedink nie. Nadat ons uitgepak het, het hy vir my die mooiste rooi rose gegee wat hy geheimsinnig weggesteek het in die kar oppad Knysna toe. Die volgende dag het aangebreek en ons het ʼn heerlike dag saam geniet. Ons het ontbyt gaan eet en op ʼn boot uitgegaan op die lagoon. Ek het agtergekom dat Jonker nie homself was nie, hy was verskriklik stil. Ek het geen idee gehad wat hy beplan het of wat aangegaan het in sy kop nie. Ons het die aand beplan om ʼn romantiese ete te hê en hy het vir ons ʼn tafel bespreek. Toe ons die aand gereed was om te gaan, het hy vir my gesê ek moet solank in die kar wag. Ek het amper tien minute vir hom gewag. Net toe ek hom wil roep en sê ons gaan laat wees vir ons bespreking, het hy my ingeroep deur die kombuisvenster. Toe ek die deur oopmaak was daar ʼn paadjie gemaak met die mooiste roosblare tot waar hy gestaan het in die middel van ʼn hartjie wat uitgelê was met rooi kershouertjies met kerse in, met die uitsig van die woud agter hom. Hy het die mees romantiese liedjie gespeel wat ons tot vandag toe ons liedjie noem. My hart het dadelik begin vinnig klop en trane het opgewel in my oë. Ek het opgestap na hom toe en hy het die mooiste woorde vir my gesê en op sy knie gesak en gevra: “Kristin Swart, sal jy asb met my trou?”en dit was so ʼn spesiale oomblik wat ek nooit sal vergeet nie.”

VERTEL ONS MEER VAN DIE BEPLANNING VAN JULLE TROUE?
“Toe ons verloof geraak het, kon ek nie wag om te begin met die beplanning van ons troue nie. So baie idees het deur my kop gegaan en ek wou net na trouskoue toe gaan, op Pinterest loer en venues gaan kyk. Ons het so gou as moontlik die venue, fotograaf, videograaf en DJ bespreek. Ek het begin om ʼn prentjie in my kop te vorm en gesoek wat ek graag wou gehad het. Die kleurskema het ek later eers op besluit en hoe ek dit regtig wil hê. Ek het dit baie geniet om ons troue self te beplan.”

WAT WAS DIE KLEURSKEMA EN DIE ATMOSFEER WAT JULLE WOU SKEP VIR JULLE TROUE?
“Ek het gegaan met ʼn sjampanjegoud-kleur, wit en verskillende pienke. Ek het gedink dat hierdie kleure mekaar mooi sal komplementeer. Sommige sjampanjegoud was blink om ʼn bietjie glans in te werk en die strooimeisies se rokke het ook ʼn bietjie sparkle gehad met sjampanjegoud sequins-materiaal. Ek het nog altyd van blinkgoed gehou en om ons sprankelende persoonlikhede uit te beeld, was dit perfek. Ek wou ʼn sagte en romantiese atmosfeer skep met ʼn elegante afwerking vir ʼn tipiese sprokiesverhaal, soos ek my en Jonker se verhouding sien.”

BESKRYF DIE DAG VAN JULLE TROUE?
“Voor die troue is daar so baie emosies wat opbou, want jy stres oor die kleinste goedjies en of alles gaan uitdraai soos dit moet. Op die dag, was ek glad nie gespanne nie. Die opgewondenheid is onbeskryflik. Die oomblik wat ek in die paadjie afgestap het na my verloofde was vir my baie oorweldigend. Ek het net vir Jonker raakgesien, die man met wie ek die res van my lewe gaan spandeer. Op daardie oomblik wat ek langs hom gestaan het en die trane in sy oë gesien het, het ek nie ingeneem wat rondom my aangaan nie. Daardie gevoel was weer dieselfde toe ons die dansvloer geopen het. Alles het mooi uitgewerk op die dag en ek het myself eintlik onder onnodige spanning geplaas voor die troue.”

WATTER RAAD SAL JY DEEL MET TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“Geniet elke oomblik en moenie te veel op een slag doen nie. Handel een ding ordentlik af voor jy die volgende begin. Merk op ʼn lysie af wat gedoen is en wat nog gedoen moet word en begin vroegtydig. As jy eers ʼn klomp goed op een slag probeer doen, plaas jy net onnodige spanning op jouself.”

WATTER ITEMS HET JULLE SELF GEMAAK?
“Ons het die uitnodigings vir ons troue self geskep met Wix en sodoende heelwat geld gespaar.

Kristin en Jonker se troue het vir hulle uitgedraai soos die sprokie waarvan hulle nog altyd gedroom het. Wie sou kon raai dat ʼn cheeky soentjie in die nek op so ʼn pragtige liefdesverhaal sou uitdraai. Die liefde is mooi en prettig, en was in oorvloed sigbaar by hierdie pragtroue.

 

DIENSVERSKAFFERS:
Venue: Laurent at Lourensford Estate
Spyseniering: Stir Food
Drankies: Shake and Serve
Dekor en blomme: Jo-Lize @ Floral Affairs
Verhurings: To-Netts en N Concepts & Design
Troukoek: Choc ʼn Cherry
Skryfbehoeftes: Lovelily Made en Lezanne’s Designs
Foto’s: Veronique Photography
Vidoegraaf: Ivy & Gold Productions
Musiek: DJ Dean SA
Trourok: Ever After Bridal – Kamryn Dress Enzoani Blue
Bruidegom se uitrusting: ZED Menswear
Grimering: Nadia Make-Up Artistry
Hare: Jeanine Crous – Professional Hair & Make-Up Stylist
Vervoer: Classic Rides
Ander: Erinevale Hotel & Lord Charles Hotel (aantrekplekke)

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA