’n Troue met ’n elegante rustieke atmosfeer is hoe troubeplanner, Johan Ungerer, Joe en Ziechfried Paul-Foster, se groot dag beskryf. Die unieke elemente wat op hulle troue gebruik is, het ʼn sprokiesagtige wêreld geskep.

An-Sophie Jonker gesels met die gewilde troubeplanner, Johan Ungerer, oor hoe hulle dit reggekry het om hierdie tema vir die paartjie se mooiste dag te bewerkstellig.

DIE TROUE

“Die tema van die troue kan ’n mens beskryf as rustiek en elegant. Ons idee was om ’n warm en liefdevolle atmosfeer te skep, waar almal gemaklik kon voel, maar nogsteeds die elegansie van die aand kon aanskou en geniet. Die kleurskema was vlootblou en roosgoud. Dit het bygedra tot die tema. Die paartjie het ’n droom gehad om in ’n woud te trou en daarom het hulle besluit om die woud na binne te bring. Hulle het dit gedoen deur verskeie elemente van groenigheid van die dak af te laat hang, asook die blou van die kleurskema in te bring met sekere blomme van Flora Mystique. Dit is gekombineer met roosgoud, geometriese vorms, kandelare, eetgerei en onderborde. Al hierdie elemente het die tema ondersteun en ’n sprokiesagtige wêreld geskep.”

WAT DIE TROUE UNIEK GEMAAK HET

“Die paartjie het probeer om so uniek as moontlik te wees. Hulle elkeen se pak, wat persoonlik ontwerp is deur Diaan Daniels volgens elkeen se persoonlikheid en styl, het ’n groot impak gemaak. Hulle ringe van Diaz Jewellers, waar Joe en Ziechfried se familie-kruine gebruik is om ’n nuwe een te skep was iets uniek wat gebring is tot hulle trouringe. Beide Joe en Ziechfried is deur hulle ouers vergesel na die seremonie, wat mens min sien in ’n troue, omdat dit gewoonlik of die pa’s is wat die dogter instap of die ma’s wat die seuns instap.”

DOEN-DIT-SELF

WATTER KLEURE EN TEMAS IS TANS GEWILD EN GAAN NOG IN 2020 OOK KONING KRAAI?

“Ons glo dat hierdie twee kleure ’n tydlose kombinasie is, maar dat dié twee kleure ook afsonderlik baie gewilde kleure is vir troues. Gewilde temas is tans rustiek, elegansie en plaas- of bostroues (veral in Suid-Afrika).”

WAS DAAR ENIGE SELFDOEN-PROJEKTE WAT DIE PAARTJIE VIR DIÉ TROUE AANGEPAK HET EN HOEKOM HET HULLE BESLUIT OM DIT SELF TE DOEN?

“Joe het die grafiese ontwerp self behartig, wat die spyskaarte, welkombord, bevestigings- en herinneringskaartjies insluit, waar hy ook afsonderlik die paartjie se uitnodigingswebtuiste geskep het. Die paartjie het saam ook hulle eie tafelnommers, sitplekplan en sitplekplanbord self gemaak, deur spykers in hout te slaan en met garing te ryg. Hulle het dit saam gedoen as ’n aktiwiteit om kwaliteit tyd te spandeer voor hulle troue en het dit baie geniet om kreatief te wees en hulle eie stempel op hulle groot dag af te druk.”

HET JY ENIGE RAAD VIR PAARTJIES WAT OP TROU STAAN?

“Geniet elke oomblik en sien die beplanning as ’n groeiproses waar julle mekaar se smaak beter kan leer ken. Doen wat julle wil en waarvan julle, as paartjie, hou en moenie omgee wat ander mense gaan dink van julle dag nie. Daar is baie diensverskaffers, wat nie buitensporig duur is nie, wat graag ’n mens se droom wil laat waar word. Selfdoenprojekte kan jou ook help om te spaar. Pinterest het baie idees en maniere wat jou kan help om kreatief te wees.”

Johan se antwoord op hoe paartjies kan baat deur ʼn troubeplanner vir hulle groot dag te gebruik: “’n Goeie troubeplanner maak die roete vir die paartjie baie maklik en verwyder baie van die angs en stres wat hulle rondom die troue kan ervaar, sodat hulle net kan fokus om die dag te kan onthou en geniet. Die troubeplanner red die huwelik basies nog voor dit begin.”

Met hulle uniekheid en Johan Ungerer se talent om ʼn troue in ʼn sprokiesverhaal te verander, het Joe en Ziechfried Paul-Foster hulle huwelik met rustieke elegansie bevestig. Al die elemente wat gebruik is om die tema te komplementeer het bygedrae tot ʼn sprokieswêreld wat nie hulle of hulle gaste gou sal vergeet nie!

DIENSVERSKAFFERS
Plek: Foresters PTA 
Koördinering: Johan Ungerer Signature Weddings 
Koördineerder se assistente: Nico Nel, Mika le Roux, Nicole Theron en Bianca Coetsee.
Spysenieirng: The Local Culture
Troukoek: P.S Delicious
Drankies: Deetlefs Wine Estate 
Koffieborg: King Bean Coffee
Blomme: Flora Mystique 
Dekor: Tentworx, Lampyridae Lights en AvA Events Dećor Designs & Photography 
Hooftafel: Woodgrain Worx 
Skryfbehoeftes: Wetink Pretoria 
Dankiegeskenke: Nicole’s Macaroon en Gift Things 
Foto’s: Tylo Ribeiro  Photography 
Video: D Film 
Fotohoekie: Picture Date
Vermaak: The Travelling Piano Lady  “From the Kruger to the Cape”
Beligting: 4 Seasons Mobile Disco 
Troupakke: Diaan Daniels Couture 
Hare en grimering: Jana Schoeman 
Seremonietent: Timeless Tents 
Ringe: Diaz Jewellers  

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA