Jou troue kan vrolik en lig wees, net soos die lente. Hierdie gestileerde fotosessie by Duck Point wys jou hoe.

Duck Point Wedding and Function Venue is die perfekte plek om in die lente troue te hou. Dis elegant, stylvol en spog met die mooiste uitsig oor die rivier.
Minette Badenhorst gesels met fotograaf Rolene van der Merwe en ander wat betrokke was by hierdie pragtige gestileerde sessie, wat juis by hierdie spoglandgoed gehou is, oor hierdie tema.

WAT WAS DIE VOORKOMS EN GEVOEL VAN HIERDIE FOTOSESSIE? WATTER ATMOSFEER WOU JULLE VASVANG?
“Lente is die ideale seisoen om kleur in almal se lewens in te blaas. Dit was ons inspirasie vir hierdie pragtige sessie wat jy ook op jou eie troue kan toepas.

In samewerking met spesialisverskaffers in die bedryf was ons in staat om ʼn kleurfees by die bekende Duck Point Wedding and Function Venue te skep. Jean-Prieur du Plessis was ons gasheer vir die middag en het geen klip ongedaan gehad om ʼn magiese omgewing te skep nie.

Droom jy van ʼn ontspanne, natuurlike, ligte en luukse soort troue? Dan is Duck Point die perfekte bestemming vir jou.”

WAT WAS DIE KLEURSKEMA EN HOEKOM HET JULLE OP DIE KOMBINASIE BESLUIT?
“Die kleur van suurlemoen is helder en ryk, en het perfek gepas by goud en swart wat al hoe meer gewild raak by die moderne troue. Ons het dit as die beste kombinasie beskou om die pragtige heldergeel haute couture rok van Anel Botha Couture te komplementeer. Die hele span was uit hulle vel toe ons die Anel Botha-ontwerperrok sien. Dit het die kurwes van ons model, Mej. Earth 2014 Ilze Sauders, perfek gepas. Anel Botha Couture maak seker dat elke vrou spesiaal voel en pragtig lyk by enige geleentheid.”

HOEKOM HET JULLE OP HIERDIE SPESIFIEKE BLOMME EN DEKOR BESLUIT?
“Christa van Wyk, van Flower and Decor Spot, het ʼn pragtige sitrus-, goud- en swart-geïnspireerde troutafel geskep. Sy het ook haar kreatiwiteit gewys met die kleurvolle kopstukke wat sy vir ons gemaak het.

Celeste Dannhauser van Sweetly Cakes het ʼn handgeverfde sitrusgeïnspireerde troukoek gemaak. Dit het perfek gepas by die skryfbehoeftes van The Peachy Peony. Christell du Preez het die gevoel van die dag behoorlik vasgevang met die groen en goue skryfbehoeftes, wat ook mooi sal lyk by ’n troue wat in die somer gehou word. Die jenewerkroeg deur Chef Shaun Bosch het so ’n bietjie glans aan ons viering gegee.”

Die model se grimering is deur Elandri Naudé en Gerda du Plessis van Making Faces geskep om die gevoel van ’n blosende bruid te skep, wat perfek is vir enige tipe troue.

DIENSVERSKAFFERS
Venue: Duck Point Wedding & Function Venue
Stilering: Gerda du Plessis en Jean-Prieur du Plessis
Spyseniering: Chef Bosch (Shaun Bosch)
Blomme en Dekor: Flower & Décor Spot (Christa van Wyk)
Skryfbehoeftes: The Peachy Peony (Christell du Preez)
Troukoek: Sweetly Cakes (Celeste Dunhauser Kruger)
Fotograaf: Rolene Photography
Trourok: Anel Botha Couture
Hare: Elandri Naude
Grimering: Making Faces by Gerda

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA