’n Troue in groen, wit en silwer was die ideale keuse vir Ruaan en Jana wat juis ontmoet het omdat hulle albei lief is vir die natuur. Lees verder om meer uit te vind oor hulle spesiale dag.

Toe Ruaan en Jana op universiteit ontmoet het, het hulle min geweet dat hulle verhouding sou uitloop op ’n troue. Maar Cupid se pyltjie het raak getref en hulle het die knoop deurgehaak met ’n sprokiestroue by Imperfect Perfection.

WATTER EIENSKAPPE HET JULLE OP MEKAAR LAAT VERLIEF RAAK?
“Dis seker ’n cliché, maar in ons geval is dit regtig waaR. Ruaan is alles wat ek nie is nie. My swakhede en tekortkominge word perfek aangevul deur sy sterkpunte. Ek hou sy voete op die aarde wanneer hy te veel verlore raak in sy droomwêreld en hy help my om ’n bietjie meer te laat gaan en in die oomblik te lewe, sonder lysies en beplande afsprake. Hy leer my die fynere werking van rekenaars en die wonderlike uitvinding wat ons tegnologie noem, terwyl ek vir hom die skoonheid van ’n sonsopkoms laat waardeer.”

HOE HET HY DIE GROOT VRAAG GEVRA VOOR DIE TROUE?
“Ons was saam met my ouers met vakansie in die Kruger Nasionale Park. Hy het op ’n manier uitgevis watter kamp my gunstelling is, sonder dat ek dit agtergekom het. Ons was daar met twee karre en het alleen vir die oggend van Balule na Letaba toe ry. By Letaba het hy my gevra of ek wil gaan stap by die vloedlyn voor die restaurant. Onder in die ‘dippie’ het hy op een knie gegaan en my gevra om syne te wees (met die ring wat ek onbewustelik ’n hele paar maande terug self uitgekies het – ’n smaragring.”

WAT WAS DIE TEMA EN KLEURSKEMA VAN JUL TROUE? “Groen, wit en silwer. Ons wou nie ’n troue met normale kleure hê nie. Aangesien ons albei van groen hou, het ons besluit daarop en toe wit en silwer bygesit, sommer net vir die lekke. Ons wou ’n rustige kuier-atmosfeer skep met tikkies van Jana en Ruaan wat oral te sien is. Die doel was dat die gaste die troue moet geniet en waardeer (en natuurlik ons ook, maar dis vanselfsprekend). Niemand onthou ’n vervelige troue nie.”

WATTER RAAD HET JY VIR ANDER PAARTJIES WAT TROUE BEPLAN?
“Begin met die venue, dit bepaal baie van die ander elemente van die troue. Maak soveel van die dekor self. Dit is nie noodwendig altyd goedkoper nie, maar dis baie lekkerder as om iets te huur. Kies die kleure waarvan julle hou, nie wat in die mode is nie. Wees dapper, dis jou troue en dit gebeur net een keer. As jy nog altyd saam met hoenders wou foto’s neem op jou troue -DOEN DIT!
Aanvaar van die begin af dat dit duur is om te trou. Maar dis die moeite werd!
Net julle weet wat alles moet gebeur of hoe alles moet lyk. As iets “verkeerd” gaan is dit net julle wat weet – vir die gaste is dit nogsteeds asemrowend.”

ONS HET GEHOU VAN DIE VOLGENDE SELFDOENPROJEKTE
* Tafelnommers
* Koekstaander
* Houtskywe op tafels
* Silwer kershouers
* Knielkussings
* Gasteboom
* Naamklippies
* Geskenkplantjies

Jana beskryf hulle troue as emosioneel, perfek, wonderlik en meer as wat hulle verwag het. “Die atmosfeer was perfek. Ek was baie rustig die hele dag – dit is ’n wonderwerk. Ek dink dis ’n groot seëning om te kan sê dat ek niks sou wou verander of oor doen nie.”

DIENSVERSKAFFERS
Venue, koördinering, spyseniering, drankies en troukoek: Imperfect Perfection
Blomme: Ma en tannie van die bruid
Dekor en verhurings: Love & Grace
Skryfbehoeftes: Bruidspaar en bruid se ma
Foto’s: Miracles Photography
Musiek: AJNtertainment
Trourok: Bridal Room
Hare: Studio S Hairstyling
Grimering: Minette Bridal Make-Up
Bruidegom se klere: Truworths, Colony Design en Love Warrior

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA