’n Troue was amper nie op die kaarte vir Shanique en Ernst nie, omdat ’n motorongeluk amper haar lewe gekos het. Gina van Staden vertel hoe hulle hul tweede kans op liefde gevier het op hulle spesiale dag.

ʼn Ernstige karongeluk waarin Shanique betrokke was (en wat Ernst aanskou het), was die faktor wat veroorsaak het dat hierdie twee se paadjies een word. Shanique Kleinhans vertel ons meer van hoe hulle liefde vir mekaar gelei het tot die troue.

VERTEL ONS MEER VAN JULLE ONTMOETING, VOOR DIE TROUE?
“Ons was vir vier jaar saam op skool sonder om ooit ʼn woord met mekaar te praat. Vier jaar na skool het Ernst eendag vir my ʼn Facebook-boodskap gestuur waarin hy my vir ʼn koffie afspraak nooi. Die res is geskiedenis!”

HOE HET HY JOU GEVRA OM TE TROU?
“Hy het my en my familie genooi vir ʼn braai op sy ouers se plaas. Na ʼn hele paar slim plannetjies het ons almal langs die rivier opgeeïndig om die sonsondergang oor ʼn piekniek te aanskou. Ons gunstelingliedjie van Ed Sheeran, het in die agtergrond gespeel. Hy het eers my oë toegemaak om my te verras en toe ek weer kon sien, staan hy langs my en vra my om syne te word. Ons was ʼn jaar verloof voor ons troue.”

WAT IS VOLGENS JOU DIE BELANGRIKSTE ASPEKTE VAN TROUE SE BEPLANNING?
“Vier dinge – die trourok, fotograaf, venue en die DJ. Die res is kleinighede waaroor bruide nie hulle koppe moet breek nie. Duurste beteken ook nie altyd beste nie, so kyk eers goed rond voordat julle finale besluite maak.”

WAT WAS DIE KLEURSKEMA VAN JULLE TROUE EN HOEKOM?
“Ek het nog altyd gedroom oor ʼn elegante swart en wit troue, maar die oomblik toe ek Mellowstream se rustieke skoonheid beleef het ek besluit om dit te verander. My ma het kruisement en lila voorgestel en ek het dadelik hals or kop verlief geraak op die kombinasie.”

ONS HET GEHOU VAN:
* Die vrolike atmosfeer tydens die seremonie, waar gaste springmielies en yskoue koeldrank geniet het.
* Die troumars, I Want To Grow Old With You (gesing deur David Gericke van die 1925 Band), wat die bruidegom heeltemal verras het.
* Die spesiale oomblik tussen die bruid en haar pa toe sy besef dat haar pa die liedjie, I Loved Her First, vir hulle pa-dogter dans gekies het.

Al het die emosies hoog geloop op die dag, was Shanique van sonopkoms tot sonsondergang verheug oor die geleentheid om mevrou Kleinhans te word. Sy sê dat ʼn bruid nie angstig of kwaad moet word oor die klein dingetjies nie, maar net die troue saam die man van haar drome moet geniet.

DIENSVERSKAFFERS
Venue: Mellowstream
Spyseniering en drankies: Fransien Myburgh van Mellowstream
Blomme: Erika Kleinhans en Amanda Martens en Rose deur Tokoza Roses
Dekor en verhurings: Churika Rentals en Mellowstream
Skryfbehoeftes: Postnet Middelburg
Troukoek: Liezl Weimar
Foto’s: Lelani du Preez van Those Photos
Musiek: HKR Productions
Vermaak: David-Lee Gericke van 1925 Band
Trourok: Lady Marmalade Fourways
Hare: Chantel Appel van Thachari
Grimering: Tanya Botha van Thachari
Bruidegom se pak: Mysteries Outfitters

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA