’n Troue was op die karate vir Jan en Alicia, wat mekaar al van skool af bewonder. Minette Badenhorst deel hulle verhaal.


Hierdie rustieke troue in kruisement en sagte pienk, vertel die liefdesverhaal van skoolliefde wat ewige liefde geword het.

Jan en Alicia was goeie vriende op skool, maar altwee was bang om vir mekaar te sê hoe baie hulle eintlik van mekaar hou. Maar toe hulle uiteindelik die moed bymekaar geskraap het om oor hulle gevoelens te praat, het die liefde in oorvloed geblom.

WATTER EIENSKAPPE HET JULLE OP MEKAAR LAAT VERLIEF RAAK VOOR DIE TROUE?
Alicia: “Die lawwe persoon wat hy is, met ʼn groot hart vol omgee.”
Jan: “Haar klein en fynheid, haar geloof en die feit dat sy net so oulik is.”

HOE HET HY DIE GROOT VRAAG GEVRA?
“Ons was saam met Jan se sussie-hulle met vakansie in Kosi Baai in 2015 en het toe ʼn staproete, die Somango-staproete gedoen. Ons het gestap en het op ʼn spesiale plekkie afgekom waar jy, bo-op die berg in die bos kan afkyk na die vier mere deur  ʼn opening, en net die natuurskoon beleef. In 2016 was ons weer met vakansie saam met hulle daar. Hy het toe ʼn rugsak gepak met piekniekhappies en sjampanje (sonder dat ek weet) en natuurlik die ring in en het gesê ons moet weer die roete gaan stap. Toe ons bo kom, het ons die mooie natuur weer bewonder waarna hy op sy knieë gegaan het en my gevra het om sy vrou te word.”

VERTEL ONS MEER VAN DIE BEPLANNNG VAN JULLE TROUE?
“Ek hou baie van rustic en vintage, en so het ons toe besluit op ʼn rustieke tema vir ons troue. Nadat ek my tema gekies het, het ek begin kyk na venues wat rustic is en ons het naweke venues gaan besoek. Rustic Rock was die derde venue wat ons besoek het en na ʼn lekker gesels met Natasja en haar span en die besigtiging van hulle pragtige venue het ons op Rustic Rock besluit. Ek het woestynrose as blomme gekies. Die kleur van ʼn woestynroos is mint, en ek het toe rond gespeel met ander kleure om te kyk wat die mooiste gaan lyk saam met die woestynrose en het besluit op ʼn sagte pienk na ʼn hele paar pin boards op Pinterest. Ek het die uitnodigings vir ons troue self ontwerp en net laat druk. Ons het wit doilies gevat en dit om die kaartjies gevou en met ʼn hessian-lintjie vasgebind. Ons dangeskenke het ons ook self gemaak. Dit was kosblikkies (Koo-blikkies) wat ons met hessian en kant versier het met ʼn woestynroos in. Dit was vir my en Jan vreeslik lekker om saam te kon werk en die kaartjies en blikkies te kon maak en het baie opgewondenheid geskep tussen ons. Ek het ook ʼn paar artikels op Troukoors se blad gelees waar ek die advertensie van Die Trouboek deur Troukoors en Gretha Wiid gesien het om ʼn troue in 52 weke te beplan en haar huweliksvoorbereidingsraad. Ons het baie van die boekie en raad gebruik gemaak. Ek beveel dit vir enigeen aan om dit te gebruik en ook om op haar huweliksvoorbereidingkamp te gaan. Dit is amazing en leer jou die regte riglyne vir die huwelik. Ons wou ʼn warm atmosfeer gehad het, waar almal net gemaklik kon voel en die dag saam ons geniet. Ons het ʼn plat-op-die-aarde familie wat hou van lekker kos, lekker geselskap en goeie musiek.”

BESKRYF JULLE TROUE?
“Dit was die ongelooflikste dag van ons lewens en ons sal dit vir altyd koester. Ek was kalm die hele dag tot ek voor die kapel se deur staan en die Pacabel Canon D begin speel, toe loop die emosies hoog. My pa het my getroos en gemotiveer om sterk te bly. Die gevoel as mens in die kerk instap en jy sien die man van jou drome daar staan met die grootste glimlag en oë wat blink, maak jou sommer van voor af verlief. Dit is ʼn dieper verlief wat jy nie aan enige ander persoon kan beskryf nie. Die eindresultaat is presies soos ek wou gehad het dit moes wees en dit het my grootste verwagtinge oortref.”

HET DAAR ENIGE IETS SNAAKS GEBEUR OP JULLE TROUE?
“Jan se susterskind Jayden (5 jaar oud) en my susterskind Janke (3 jaar oud) moes ons ringe vir ons bring. Toe dit tyd was vir die ringe het Janke aangestap gekom waarna Jayden kliphard vir sy ouma sê hy kan nie saam stap nie want hy wil nie nou al trou nie.”

WATTER RAAD SAL JY DEEL MET TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“Raad wat ek kan gee aan bruide is om definitief by ʼn China Mall ʼn draai te maak om aankope daar te doen. Jy betaal die helfte van die prys vir die kleiner goedjies. Probeer ook om nie die hele aand net saam met die familie te kuier nie, byvoorbeeld jy hoef nie by elkeen te sit by die tafels en kuier nie. Die aand gaan so gou verby, geniet dit saam jou man. Julle trou net eenkeer en beleef dit net eenkeer saam. Die troue gaan oor julle en nie net oor julle gaste nie.”

Skoolliefde het geblom vir Jan en Alicia. Met die perfekte rustic trou-venue en ʼn warm, ontspanne atmosfeer het hulle troue gehou.

 

DIENSVERSKAFFERS:
Venue: Rustic Rock Venue
Spyseniering: Boskraai Spitbraai
Koördinering, Blomme en Dekor: Envy Weddings & Events
Ruikers: Christelle Deysel
Troukoek: Lolita’s Ice Cream Cakes
Tiffany-stoele: Red Spoon Rentals
Skryfbehoeftes: Bruid
Foto’s: Leandrie du Toit
Musiek: Inhuis-platejoggie
Bruidegom se uitrusting: Woolworths
Grimering: Bianca van Rooyen
Hare: Gina van Staden

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA