ʼn Troue in vrolike pastelkleure was die begin van Philip en Naomi se lewens saam. Gina van Staden het meer gaan uitvind oor hoe hulle groot dag vorm aangeneem het.

Philip en Naomi Strydom se liefde het begin blom by die werk. Na meer as ʼn jaar het Philip haar gevra om sy meisie te wees. Naomi vertel ons meer oor hulle troue:

WANNEER HET JY GEWEET DAT HY ‘DIE EEN’ IS?
“Ek het dit binne die eerste jaar wat ons begin uitgaan het geweet. Ek kon nie ʼn troue met enige iemand anders voorstel nie.”

WATTER VAN SY KARAKTEREIENSKAPPE HET GELEI NA JULLE TROUE?
“Philip is ʼn baie intelligente en aantreklike man. Hy het ʼn subtiele romantiese streep wat altyd nét op die regte tyd te voorskyn kom.”

HOE HET HY  DIE JA-WOORD GEVRA?
“Op die oggend van ons drie-jaar herdenking het hy my oudergewoonte met ʼn koppie koffie wakker gemaak. Ons koop nie regtig vir mekaar geskenke nie, maar hy het aangekondig dat hy vir my iets gekry het. Na ʼn lang, stywe druk het hy op sy knie gegaan en my gevra om sy vrou te word. Toe ek my trane onder beheer kry het ek “ja” gesê. Ons was vir ʼn jaar en drie maande verloof voor ons troue.”

HOE HET JULLE DIE BEGROTING HANTEER?
“Ons het dadelik begin geld spaar toe ons verloof raak. Ek het rofweg uitgewerk hoeveel die troue ons uit die sak sou jaag en daarvolgens beplan om ons maandelikse spaar-bedrag weg te sit. Soos wat die uitgawes verander het, het ek ons spaarplan aangepas.”

WATTER ATMOSFEER WOU JULLE SKEP VIR JULLE TROUE?
“Ons wou ʼn vrolike, kalm atmosfeer skep. Die kleurskema het ook bygedra daartoe.”

HET DAAR ENIGE IETS HUMORISTIES GEBEUR OP DIE DAG?
“My pa het op my rok gestaan voor die podium – wat verhoed het dat ek vorentoe kon beweeg na my bruidegom toe! Toe hy dit besef, het hy dadelik sy voet opgelig.”

HET JY ENIGE RAAD VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“Geniet die troue en onthou – dit gaan nie net oor jou nie, maar oor jou man ook.”

ONS HET GEHOU VAN:
* Die herwinbare glasbottels wat die bruid bymekaar gemaak het om hulle name, troudatum en monogram op te laat grafeer.
* Die Speckled Eggs binne-in die glasbottels wat die kleurskema mooi gekomplimenteer het.
* Die ysterharte in die tuin wat foto’s van die bruidspaar (geraam met linte) ten toon gestel het.

Trou is nie maklik nie, en met hierdie paartjie se raad hoef geen troue af te skop met hope skuld nie.

DIENSVERSKAFFERS
Venue, koördinering, spyseniering, drankies, blomme, dekor en musiek: Die Akker
Troukoek: Sugar Smith Cakes
Fotograaf: Roux Wedding Photography
Vermaak: Ardelle Scholtz (Photo booth) – Die Akker
Trourok: Bridal Wardrobe
Hare en grimereing: JDV Styling
Bruidegom se pak: Snyman Tailoring
Ander: e-wedding

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA