Jou trourok is een van die belangrikste aspekte van jou troue. Hier is ses belangrike vrae wat jy vir jou ontwerper of rokwinkeleienaar moet vra wanneer jy jou trourok koop.

Wanneer jy besig is met troubeplanning en trourok soek, kan jy soms so oorweldig wees dat jy vergeet om sekere vrae te vra. Dit kan later probleme of onnodige spanning veroorsaak. Hier is ses vrae wat jy moet vra om seker te maak jy kry nie verrassings nie.

1.WAT IS DIE BETAALTERME?
Dit help nie jy onder die indruk dat jy die rok kan betaal sodra die ontwerper klaar is daarmee, of wanneer dit by die winkel aankom van oorsee af nie – as jou ontwerper of rokwinkel se terme is dat jy vooraf moet betaal nie. Dan kan dit beteken dat jy dink jou trourok is op skedule, maar dat dit byvoorbeeld nog glad nie bestel is nie en dus nie betyds sal wees vir julle mooiste dag nie. Maak seker jy weet wat die betaalterme is.

2.HOE LANK SAL DIT NEEM OM ’N TROUROK IN TE VOER
As jy besluit om eerder ’n rok in te voer met die hulp van jou rokwinkel, is dit belangrik om te weet hoe lank dit gaan neem vir jou rok om ingevoer te word sodat jy seker kan wees dat jy jou finale keuse gou genoeg maak en daar nog tyd is vir verstellings ensovoorts voor jou mooiste dag.

3.WATTER ROK SAL MY FIGUUR PAS?
Elkeen van ons het ’n idee van die trourok wat ons wil hë… maar dit is nie te sê dat daardie spesifieke ontwerp gaan werk vir jou spesifieke figuur nie. Vra jou ontwerper of rokwinkeleienaar se opinie. Hulle werk elke dag met verskillende figure en roktipes en sal vir jou goeie raad kan gee.

4.WATTER KLEUR TROUROK MOET EK DRA?
Dit is deesdae nie vreemd om in ’n ander kleur rok te trou as wit nie. Soms werk wit net glad nie saam met ’n sekere velkleur of figuur nie. Vra jou ontwerper of rokwinkeleienaar se opinie, hou materiaalmonsters teen jou vel en vind uit wat die opsies is.

5.WATTER ONDERKLERE SAL WERK SAAM MET MY ROK?
Broekielyne wat deur jou trourok druk of ’n broekie wat uitsteek by jou lae rug rok, sal beslis konsternasie veroorsaak op jou troudag. Soms is ’n bra met bandjies ook heeltemal onvanpas by die styl wat jy kies. Maak seker dat jy skaflik en op jou beste lyk deur die regte onderklere aan te skaf vir die rok wat jy gaan dra.

6.WAT AS EK GEWIG OPTEL OF VERLOOR VOOR DIE TROUE?
Vra jou ontwerper of rokwinkeleienaar wat die verstelopsies is vir die rok wat jy gekies het. Sommige rokke kan maklik verstel word en ander nie. Dit is ook makliker om ’n trourok kleiner te maak as groter. Maak dus seker wat jou opsies is.

Foto: Wedding Bee

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA