Trouroktendense gee jou gewoonlik ’n idee van watter nuwe roksnitte geskik is vir die moderne bruid. Niko en Arnold van The Boys Couture gesels oor die nuutste modes wat gewild gaan wees dié jaar.

Die laaste eksemplare van Troukoors tydskrif se Spesiale Uitgawe is nou op die rak by Pick ’n Pay, Checkers en sekere Clicks en Spar winkels. Koop dit sommer vandag nog voor dit finaal van die rak af verdwyn, of bestel die tydskrif saam met Die Trouboek direk by ons (teen spesiale afsalg – saam posgeld steeds goedkoper as by die winkels). Kliek hier vir meer info of om te bestel.

————————————————————————————————————————————————————–

Die Global Village waarin ons leef kan maklik die indruk skep dat enigiets gepas is. Bruide het meer keuses as ooit tevore en dit raak soms moeilik om tred te hou met die nuutste trouroktendense.

Die beste plan en beginpunt is om eers op ’n styl te besluit wat by jou figuur pas. Vergeet onmiddellik van vrugtevorms, soos “ek is ’n peer of ’n druiwetros”. Maak ’n afspraak by ’n ontwerper of bruidsalon en pas verskillende tipe rokke aan. Die konsultant ken figure en weet wat goed sal lyk aan jou lyf.

Om dit makliker te maak, gee ons ’n paar van die nuutste trouroktendense vir 2017 en selfs 2018. Onwerpers werk altyd vooruit. Diep halslyne, v-vorms en oop neklyne bly gewild, maar hang af van die bruid se vorm en buustelyn. Dieselfde geld vir lae- en oopruglyne. Dit is baie mooi, sensueel en in die mode, maar kan maklik soos ’n soufflé lyk wat platgeval het.

Hierdie trouroktendense gaan koning kraai in 2017/2018:

DIE SNIT
DIE MEERMIN: Kan slegs gedra word deur slank, lang bruide en wys elke kurwe van die liggaam.
DIE A-LYN STYL: Hierdie styl werk aan die meeste tipe figure, van baie klein tot voller figure.
PRINSESBALROK: Altyd ’n gunsteling, maar kan maklik lyk of dit ’n sikloon in ontwikkelingstadium is. Hiervoor moet jy lank wees, maar kan voller of kleiner van figuur wees. Minder is meer. Dit bly tydloos en sjiek, maar jy wil nie gril vir jou rok oor tien jaar of hoor “hoe kon ma daardie rok gedra het” nie. Wees altyd versigtig vir te veel materiaal – jy is ’n vrou, mooi en uniek, nie ’n “tent” nie.

DIE KLEUR
Kleur speel natuurlik ’n groot rol op die spesiale dag. Gelukkig is die era van: “Dit moet wit wees my kind,” verby. Die nuuste internasionale trouroktendense is baie beter.  Kleure, soos blush, sjampanje, ligte sjerrie of vleeskleur is hoogmode. Dit kan versag word met sagte kant en ivoorkleurige of sagte wit lae material wat bo-oor gebruik word. Die gedagte is om ’n nuwe, of jou eie, kleur te skep vir jou dag. ’n Bruid met ’n ligte vel, lyk semi-dood in wit, soos ’n bruid met ’n blas vel lyk asof sy geelsig het in ’n roomkleurige rok.
Kant is voor in die ry as dit by detail kom. Vir die wat van blink hou, voeg dit gerus by, maar wees versigtig om nie in ’n Kersboom te verander nie.

Moue wat uit sagte fyn kant gemaak is bly gewild, maar moet perfek pas. Tradisioneel is dit gebruik op grond van kultuur of geloofsoortuigingsredes. In 2017 word moue gebruik om sagte vel te verbloem of om hitte te gee. Die meeste trouplekke het lugreëling, so moue is opsioneel en ’n persoonlike keuse.

Die belangrikste raad wat ons vir ’n bruid kan gee, is om vroegtydig die regte onderklere en skoene te koop. Onthou dat jou skoene nie presies by die rokkleur hoef te pas nie. Maak dan jou afspraak met die ontwerper of bruidsalon. Neem jou idees saam en wys die spesialis waarvan jy hou. Pas verskillende rokke aan, nie net die wat jy dink jy wil hê nie, dit is dikwels nie wat jou op jou mooiste sal laat lyk nie. Ander style gee insig en verander die manier waarop jy na jouself kyk. Bepaal altyd eers die styl en kleur, dan kan jy besluit oor detail soos kant, krale, watter tipe sluier, juwele en afronding.

The Boys Couture het jou droomrok! Besoek hulle webblad vir meer inligting.

Hooffoto: The Wow Style
Foto’s: Lehava; DH Resource

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA